Koepka trek oor tweede nege weg, wen Ope

Brooks Koepka – wen sy eerste Major (Facebook Brooks Koepka).jpg

Met nie een van die voorste twintig spelers wat in die vierde ronde afgeslaan het wat al ʼn Major gewen het nie, was dit vanselfsprekend dat een van hulle tot hierdie uitgelese groepie sou vorder.

En dit was toe Brooks Koepka, met ʼn telling van vyf beter as syfer, wat hier teen die einde weggetrek het om op 16-onder vir die toernooi met die titel weg te stap – vier houe beter as Hideki Matsuyama en Brian Harman.

Koepka was die sewende opeenvolgende speler wat sy eerste Major gewen het.

Koepka het van die 14de tot die 16de by elke putjie ʼn voëltjie aangeteken, en dit was juis hier waar Harman effe gestruikel het met drie houe wat hy op die laaste sewe putjies laat val het terwyl hy net twee voëltjies kon aanteken. Oor sy bestendige eerste nege het hy boonop net een voëltjie aangeteken.

Matsuyama het so stilweg nadergesluip met ses voëltjies oor die laaste ses wat ongelukkig vir hom ook een van sy twee brouhoue ingesluit het. Hy het 66 houe oor die laaste ronde gespeel en in ʼn stadium gelyk na die eerste Japanner wat ʼn Major sou wen.

Maar terug na Koepka: hy het Sondag sommer by die eerste twee putjies elk ʼn voëltjie aangeteken en dit by die agste herhaal sonder om ʼn hou in te boet. Dít het wel by die tiende gebeur, maar toe het hy op die 14de losgetrek met daardie drie voëltjies wat hom van die groep spelers om hom losgemaak het.

Die wind het al die spelers kwaai gekortwiek. Selfs sethoue is deur die sterk wind van koers af gewaai, en met die setperke wat boonop deur die wind uitgedroog was, het naderhoue dikwels oor die setperk gehol om planne en ideale deurmekaar te krap.

♦  Die vyf Suid-Afrikaners het gesukkel. Louis Oosthuizen was redelik bestendig en het met een-oor vir die ronde met sy 73 in die 23ste plek op drie-onder vir die toernooi afgesluit.

Ernie Els het in waarskynlik sy laaste Ope op die oog af ʼn redelike twee-oor 77 gespeel. Sy tweede nege was egter uiters wisselvallig, en hy het twee brouhoue afgewissel met ʼn voëltjie, nog ʼn brouhou en weer ʼn voëltjie voordat hy die laaste vier putjies met syfer voltooi het.

Sy totaal vir die toernooi was egter ʼn swak sewe-oor na sy eina-79 in die derde ronde.

Thomas Aiken het in sy laaste ronde ook 79 aangeteken. Hy het weggespring met ʼn hou wat hy oor elk van die eerste twee afgestaan het maar met twee voëltjies opgemaak daarvoor en op syfer 36 gedraai.

En toe speel die wind en sy konsentrasie saam en speel hy oor die volgende ses putjies drie keer swakker as syfer en staan boonop op die 15de drie houe af. Sy telling vir die toernooi was 296, agt-oor syfer.

Brandon Stone het vyf houe oor die eerste nege laat val en op 39 gedraai, maar toe goed reggeruk en met een-oor vir die ronde en die toernooi afgesluit.

Branden Grace het sewe houe in sy ronde afgestaan en net twee voëltjies aangeteken. Sy 77 in die laaste ronde het aan hom ʼn totaal van 292 in die toernooi, ses oor syfer, besorg.

Klik op die skakel om die tellings vir die hele Ope-toernooi te sien: http://www.pgatour.com/leaderboard.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.