Koepka wen, maar Gooch lag lekkerste

Brooks Koepka (Foto: Brooks Koepka/Facebook)

Die Amerikaner het Sondag in Djedda in Saoedië-Arabië sy tweede opeenvolgende oorwinning in dié LIV-toernooi behaal nadat hy sy landgenoot Talor Gooch in ʼn uitspeelstryd geklop het.

Maar Gooch, wat 62 houe in die derde en laaste ronde aangeteken het, het die breedste geglimlag, want hy is as die reeks se beste speler gekroon en het ʼn enorme bonus van $18 miljoen (sowat R341 miljoen) in sy bankrekening gestort.

Koepka het $3 miljoen (bykans R56 miljoen) met sy eerste plek verdien.

Koepka en Gooch het albei op -14 geëindig, met Harold Varner III, Sergio Garcia en Scott Vincent saam derde op -12.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel en Dean Burmester het albei op -7 geëindig, met Louis Oosthuizen op -5 en Branden Grace op -3.

Die Suid-Afrikaanse Stingers-span het negende geëindig, maar het genoeg punte ingesamel om algeheel vyfde in die reeks te eindig.

Die spanne speel nou komende naweek in ʼn laaste toernooi in Miami uit om nog ʼn enorme bonuspot tussen die spanne te verdeel.

Die topvier-spanne (4 Aces, Crushers, Torque en Range Goats) kan hul teenstanders eerste kies teen wie hulle moet uitspeel, waarna die Stingers aan die beurt kom om hul teenstanders te bepaal.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Shriners Children’s-ope wat in Las Vegas beslis is, het Joo-Hyung Kim van Suid-Korea die laaste ronde in 66 houe voltooi en op 264 houe (-20) geëindig om met die eerste prysgeld weg te stap.

Kim is gevolg deur Adam Hadwin van Kanada op 265 (-19), met die Amerikaners JT Poston en Eric Cole, nog ʼn Kanadees Taylor Pendrith en Henrik Norlander van Swede saam derde op 266 (-18).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (270, -14), Garrick Higgo (275, -9) en Christiaan Bezuidenhout (278, -6) het ook in die prysgeld gedeel.

* In die Europese reeks en DP World Tour se Spaanse Ope wat in Madrid gespeel is, het Suid-Afrika se Zander Lombard 64 houe in die vierde ronde gespeel om op 265 houe (-19) tweede te eindig.

Lombard het vier houe agter die wenner Matthieu Pavon van Frankryk geëindig, wat op 261, 23 houe onder die baansyfer, klaargemaak het.

Die Engelsman Nathan Kimsey was derde op 266 (-18), met Marcel Siem van Duitsland, wat 61 houe in die laaste ronde aangeteken, en nog ʼn Fransman, Fabrizio Zanotti, wat vierde op 267 houe (-17) geëindig het.

Van die ander Suid-Afrikaners het Wilco Nienaber op 272 (-12) klaargemaak, gevolg deur Thriston Lawrence en Louis de Jager (albei 276, -8), Daniel van Tonder (279, -5), Thomas Aiken (280, -4) en Deon Germishuys (288, +4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.