Koning Louis brul soos groot leeu

Marcus Armitage. (Foto: SA Open/Twitter)

Louis Oosthuizen hou daarvan om kat en muis met sy teenstanders te speel en toe hy Saterdag by die Randpark-klub in Johannesburg sy telkaart ná die derde ronde van die Suid-Afrikaanse Ope-gholftoernooi onderteken het, moes hy sekerlik aan Steven Spielberg se lokettreffer van 2002 gedink het wat letterlik vertaal kan word met: “Vang my as julle kan”.

Oosthuizen, die verdedigende kampioen, is op 198 houe 15 houe onder die baansyfer en een hou voor die Engelsman Marcus Armitage (199), gevolg deur Jaco Ahlers (200) met vyf spelers, Martin Rowher, Jacques Blaauw, Branden Grace, Andy Sullivan en die amateur Jayden Treu Schaper, almal op 201.

Schaper, wat net 18 jaar oud is, is in 2001 gebore, slegs ʼn jaar voordat Oosthuizen, wat sy rolmodel is, sy buiging as beroepspeler in 2002 gemaak het.

Schaper is ʼn vars briesie. Hy slaan die bal baie ver en was glad nie ontsenu in die eerste twee rondes toe hy saam met Oosthuizen gespeel het nie.

Schaper, wat in Benoni woon, sal heel waarskynlik die Freddie Tait-trofee vir die voorste amateur wen.

Kan hy die Ope ook wen?

Dit het laas in 1959 gebeur toe Denis Hutchinson dit reggekry het. Dis ʼn bietjie baie gevra, veral met Oosthuizen, Grace en ʼn rits van die land en Europa se voorste spelers wat kook.

Oosthuizen, of Koning Louis soos hy genoem word,  het sewe voëltjies in die derde ronde aangeteken vir ʼn rondetelling van 64. Hy het tot dusver 16 voëltjies oor die eerste drie rondes (65, 69 en 64) aangeteken en net Vrydag op die 16de putjie in die tweede ronde ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Verder het hy foutloos gespeel, hy het die bal suiwer geslaan, goed geset en hy sal nie goedsmoeds van sy titel afstand doen nie, veral nie omdat hy boonop die gasheer vir die SA Ope is.

Gaan blaai maar terug in die annale toe hy verlede jaar sy eerste SA Ope gewen het. Die trane het vrylik gevloei … dis wat dit vir hom beteken het.

Toe hy Woensdag met die media gesels het, was daar reeds ʼn vonkel in sy oog. Hy het kwansuis gesê dat hy sedert die einde van verlede jaar uitgespan en net twee keer gholf gespeel het – en boonop ʼn bietjie verroes sal wees.

Dalk is dit waar, maar ek glo nie daar is enige Suid-Afrikaanse ondersteuner wat hom nié ’n wenkans sal gun nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.