Konstante Storm wen op derde valbylputjie

Graeme Storm. Foto: Michael Sherman/ANA

Graeme Storm. Foto: Michael Sherman/ANA

Graeme Storm, wat met ʼn uitstekende 63 in die tweede ronde die voortou geneem het, het die SA Ope op die Glendowerbaan in Ekurhuleni Sondag op die derde valbylputjie gewen toe Rory McIlroy sy sethou verbrou het.

Storm, wat die laaste ronde in 71 houe voltooi het, het 54 putjies ná mekaar gespeel sonder om ʼn hou aan syfer af te staan totdat hy in die laaste ronde een-oor op die syfer-drie 14de gespeel het.

Rory McIlroy, wat Sondag drie houe agter Storm afgeslaan het, het op al drie van die valbylputjies wat by die 18de gespeel is, met sy bofhoue gesukkel en moes al drie keer uithaal om by Storm te probeer bly.

Die derde keer, egter, was ook McIlroy se tweede hou in die dik kikoejoegras. Hy het met sy derde na die setperk redelik herstel, maar die eerste sethou van Storm is rakelings langs die blikkie verby en hy het vir die derde keer syfer gespeel.

Rory se sethou was egter mis, en die Engelsman is die nuwe SA kampioen.

♦  Die 18de putjie was nie McIlroy se gunsteling nie. In die tweede en die derde ronde het hy elke keer op die 18de ʼn hou daar aan syfer afgestaan.

Dit was terloops die eerste keer sedert 2014 in Qatar dat ʼn gholftoernooi in die Europese reeks eers by die derde ekstra putjie beslis is.

McIlroy het met 33 oor die eerste nege en 35 na die draaipunt 68 gespeel om sy agterstand van drie houe na die derde ronde in te haal. Hy was nog by die 17de een  hou voor Storm, maar het toe op die syfer-drie 17de sy sethou verbrou – en die twee voorlopers was toe gelyk.

♦   Die 17de putjie het ook ʼn einde aan Jordan Smith van Engeland se kanse gebring. Ná ʼn brouhou op die eerste putjie het hy vyf voëltjies en twee arende aangeteken en toe, soos McIlroy, op die 17de  ʼn hou afgestaan. Hy was toe een hou agter met net die 18de wat voorgelê het en het een hou agter Storm en McIlroy geëindig – maar hy sal vanaand wonder oor die sesde, ook ʼn syfer-drie, waar hy drie houe meer as syfer gespeel het.

♦  Dean Burmester, Thomas Aiken en Trevor Fisher jr. van Suid-Afrika het al drie 69 oor die laaste ronde aangeteken. Burmester het daarmee vierde geëindig en die ander twee was gesamentlik vyfde.

♦  Jaco van Zyl, 74, het twee houer swakker as syfer in die laaste ronde gespeel en  was in die 13de plek die volgende Suid-Afrikaner.

Klik hier vir al die tellings ná die vierde ronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.