Korda kry dit reg, Scheffler haak vas

Nelly Korda van die VSA. (Argieffoto: Christian Petersen/Getty Images/AFP

Scottie Scheffler kon dit nie regkry nie en toe wys Nelly Korda hom hoe dit gedoen moet word.

Scheffler, die wêreld se voorste manspeler op gholf se wêreldranglys, het daarna gemik om die Houston-Ope in die Amerikaanse PGA-reeks te wen om sodoende die eerste manspeler te word wat sedert 2017 drie toernooie in ʼn ry kon wen.

Korda, die twee voorste speler op die vroueranglys, was in die Ford-kampioenskap wat in Arizona in die Amerikaanse LPGA-reeks beslis is, in dieselfde bootjie en op koers om die eerste vrouespeler in agt jaar te word wat ’n opeenvolgende driekuns kan vermag.

Maar waar Scheffler op die 18de putjie van die vierde ronde met ʼn voëltjieset misluk het om ’n uitspeelstryd met Stephan Jaeger van Duitsland af te dwing, het Korda kommerkoel in reën en ’n kwaai wind met ʼn arend op die 17de en voëltjie op die 18de afgesluit om haar oorwinning met twee houe te beklink.

* Die 34-jarige Jaeger het Sondagaand op die Memorial-baan in Houston Texas nuwe betekenis aan die uitdrukking “aanhouer wen” gegee toe hy die Houston-Ope met een hou gewen het.

Jaeger het op 268 houe (-12) geëindig en sy eerste PGA-toernooi in 135 probeerslae gewen toe hy Scheffler en ʼn rits ander spelers met een hou uitgestof het.

Jaeger het die laaste ronde in 67 houe voltooi.

Scheffler het op die 16de putjie ’n voëltjie behaal om nader aan Jaeger te kruip, maar hy het op die 17de en 18de putjies met voëltjiesethoue misluk en het met 68 houe geëindig.

Jaeger, wat as 16-jarige in Tennessee aangekom om sy skoolloopbaan in Amerika te voltooi en gholf te speel, het met sy oorwinning die laaste uitnodiging gekry om aan die komende Amerikaanse Meesters deel te neem.

Die Argentyn Alejandro Tosti, Thomas Detry van België, Scheffler en nog twee ander Amerikaners, Tony Finau en Taylor Moore, was saam tweede op 269.

Suid-Afrika se Garrick Higgo het op 282 (+2) geëindig.

* Korda het in winderige en reëntoestande in Arizona se woestyn die laaste ronde in 65 houe voltooi om op 268 (-20) te eindig.

Dit was twee houe beter as Hira Naveed van Australië, wat op 270 houe (-18) klaargemaak het, met Maja Stark en Frida Kinhult (albei van Swede), Carlota Ciganda (Spanje), Lexi Thomson van die VSA en Mi-Hyang Lee van Suid-Korea wal almal saam derde op 271 (-17) was.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai en Paula Reto het saam op 277 (-11) klaargemaak om in die prysgeld te deel.

* In die DP World Tour (Europese reeks) se Indiese Ope wat in Nieu-Delhi beslis is, het Keita Nakajima van Japan die toernooi met vier houe gewen toe hy op 271 (-17) klaargemaak het.

Die plaaslike held Veer Ahlawat was saam met die Amerikaner Johannes Veerman en Sebastian Soderberg van Swede tweede op 275 (-13).

Pieter Moolman (283, -5) het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar, met Daniel van Tonder (284), Oliver Bekker (288) en Casey Jarvis (289) verder terug.

Dit was Nakajima se eerste oorwinning in die Europese reeks en hy is slegs die vyfde speler van Japan wat dié eer te beurt geval het.

* Korda het met haar sege in die Ford-kampioenskap R6,36 miljoen verdien en Jaeger sowat R16,96 miljoen.

  • Bykomende bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.