Larrazábal blaas toe nié die aftog op Leopard Creek

Pablo Larrazábal. Foto: Alfred Dunhill Championship/Twitter

Wanneer die Latynse bloed eers deur die are bruis, is daar min dinge wat ʼn Spaanse sportman van ʼn oorwinning van op die sportveld kan weghou.

Dink maar aan Seve Ballesteros en Rafael Nadal.

Dit het die Spanjaard Pablo Larrazábal Sondagmiddag op die Leopard Creek-baan langs die Krugerwildtuin weer bewys toe hy die Alfred Dunhill-gholfkampioenskap met een hou gewen het.

Larrazábal het die laaste ronde in 74 houe voltooi, maar sy toernooitelling van 280 was steeds agt houe minder as die baansyfer.

Hy het een hou voor Joel Sjöholm, wat in Chili gebore is maar op die ouderdom van drie maande deur Sweedse ouers aangeneem is, geëindig.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel, Branden Grace en Daniel van Tonder, asook die onbesonge Nederlander Wil Besseling, het almal op 282 geëindig in die gesamentlike derde plek.

Nog drie Suid-Afrikaners, Justin Harding, MJ Viljoen en Zander Lombard, wat die bal op die 18de putjie in die water geslaan het en twee houe aan syfer moes inboet, en die Amerikaner Johannes Veerman, het almal op 285 klaargemaak.

Larrazábal het Sondagoggend met ʼn voorsprong van drie houe afgeslaan, maar daar was twyfel of hy sou kon speel aangesien hy las van erge blase aan sy voete ondervind het.

Vra maar vir enige gholfspeler, dis nag!

Hy het twee uur op die masseertafel deurgebring en besluit om voort te swoeg. Nadat hy vyf houe oor die eerste sewe putjies afgestaan het, was sy aanslag byna daarmee heen.

Hy het sy skoene uitgetrek, want hy kon skaars loop.

Maar hinkende-pinkende het hy deur die pyngrens gespeel, voëltjies op die 11de, 15de, 16de en 18de putjies behaal om die kroon op sy kop te plaas en Maandag die wentjek van R4 037 921 te deponeer.

Breek ʼn lansie vir Besseling, wat ná Donderdag se eerste ronde voorgeloop het.

Toe hy Sondag op die 18de putjie afgeslaan het, was hy saam met Larrazábal en Sjoholm voor op sewe onder syfer.

Maar draai maar die horlosie terug na 1999 toe die Fransman Jean van de Velde sy voorsprong van drie houe ingeboet het (en so ook die Britse Ope-kroon) toe hy die bal uit diep water wou slaan.

Besseling het die bal met sy tweede hou (syfer 5) tot oor die setperk geslaan waar die bal tussen rotse en klippe beland het.

In plaas daarvan om uit te gooi vir ʼn strafhou, het hy gewaag en op die ou einde twee houe aan syfer afgestaan.

Binne minute was sy drome daarmee heen terwyl die Spanjaard die rieldans kon begin uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.