Lawrence en Lombard rooiwarm in Dubai

Zander Lombard in aksie. (Foto: Twitter/ Zander Lombard)

As Suid-Afrika se Thriston Lawrence en Zander Lombard net kophou in die laaste twee rondes van die geldryke Road to Dubai-Toerkampioenskap by die Jumeirah Beach-buiteklub in Dubai gaan hulle die jaar op ʼn baie groot hoogtepunt afsluit.

Dié toernooi, die laaste in vanjaar se reeks en waaraan slegs die top 50 in die Europese reeks deelneem, het prysgeld van R183 miljoen.

Die wenner sal bykans R55 miljoen ontvang en die speler wat 50ste en laaste eindig, kry R587 000.

Die Deen Nicolai Hojgaard loop op 133 houe (-11) met twee houe voor Lawrence, Antoine Rozner (Frankryk), Jens Dantrop (Swede), Tommy Fleetwood (Engeland) en die Noorweër Viktor Hovland, wat almal saam op 135 houe (-9) in die klubhuis geëindig het.

Hojgaard kon nog nie vanjaar wen nie, hoewel hy baie bestendig was en in agt toernooie tussen die top 10 geëindig het. Hy was verlede week by Sun City tweede in die Nedbank-uitdaagtoernooi wat deur die Amerikaner Max Homa gewen is.

Lombard en die Fransman Matthieu Pavon is saam sewende en slegs drie houe agter Hojgaard op 136 houe (-8).

Albei Suid-Afrikaners het skitterspel in die tweede ronde gelewer. Lawrence, wat twee jaar gelede die Sir Henry Cotton- nuweling van die jaar in die Europese reek was, het 64 houe, die beste telling van die dag, in die tweede ronde aangeteken.

Die 26-jarige Lawrence, wat reeds vier toernooie in die Europese reeks gewen het, het ses voëltjies en ʼn arend (op die tweede putjie) aangeteken.

Nadat Lawrence in die eerste ronde op drie putjies houe aan baansyfer afgestaan het, was hy Vrydag rooiwarm en het nie een keer verbrou nie.

Die 28-jarige Lombard het met 65 houe na vore geskiet. Hy kon nog nie ʼn toernooi in die Europese reeks wen nie, maar het met sewe voëltjies in sy tweede ronde (65) die agterdeur oopgeskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.