
Die legendariese gholfspeler Tiger Woods maak sy terugkeer. (Argieffoto: Andrew Reddington/Getty Images/AFP)
Dit is amptelik. Die legendariese Tiger Woods sal einde vandeesmaand sy terugkeer tot die gholfbaan maak wanneer hy in die Hero-wêrelduitdaagtoernooi in die Bahamas in aksie sal wees.
Die 47-jarige Woods het die afgelope naweek bevestig dat hy deel sal wees van die uitsoekveld van 20 spelers wat by die gesogte Albany-gholfoord sake sal uitspook in die jaarlikse skouspel waarvan Woods ook die gasheer is.
Die Albany-oord is een van die mees eksklusiewe gholfoorde ter wêreld en behoort aan Woods, die sanger Justin Timberlake, die omstrede Britse sakeman Joe Lewis en die Suid-Afrikaner Ernie Els, wat ook die gholfbaan ontwerp het.
Woods het in ʼn verklaring wat sy stigting uitgereik het, gesê sy enkel wat geopereer is, voel 100% reg en verskaf hom geen pyn meer nie.
Volgens die vyftienmalige majorkampioen is daar egter ander dele rondom sy enkel wat hom steeds hinder.
“Deur te probeer vergoed vir ʼn seer enkel, ontstaan ander probleme. Dit is maar hoe dit werk en ek kan niks daaraan doen nie,” het Woods gesê.
Die voormalige no. 1-speler se laaste mededingende verskyning op die gholfbaan was in April vanjaar op Augusta in die Amerikaanse Meesterstoernooi.
Hy het hom tydens die derde ronde aan die toernooi onttrek en drie dae later ʼn enkeloperasie ondergaan.
Woods het in Februarie 2021 sy regterenkel erg beseer in ʼn motorongeluk buite Los Angeles wat so byna tot die amputasie van sy regtervoet gelei het.
Sedertdien was hy nog net weer in vyf toernooie in aksie en het hy vier keer die halfpadmerk-afsnykerf oorleef.
Sy enigste onsuksesvolle probeerslag was in verlede jaar se 150ste Britse Ope op St. Andrews.
Die nuus van Woods se deelname aan die Hero-toernooi het gepaardgegaan met die nuus dat Patrick Cantlay en Xander Chauffele nie meer in die Bahamas in aksie sal wees nie.
Dié twee boesemvriende het geen rede vir hul onverwagse onttrekking gegee nie.
Gerugte het tydens die Ryderbekertoernooi die ronde gedoen dat Cantlay en Schauffele, onderskeidelik no. 5 en no. 6 op die wêreldranglys, tweespalt in die Amerikaanse kamp veroorsaak het.
Die twee Yanks se plekke in die Bahamas-veld word geneem deur Justin Rose en Lucas Glover.
Die volledige lys van deelnemers aan die toernooi wat van 30 November tot 3 Desember gespeel word, is (wêreldranglysposisie in hakies):
Scottie Scheffler (1), Viktor Hovland (4), Max Homa (7), Matt Fitzpatrick (8), Brian Harman (9), Wyndham Clark (10), Collin Morikawa (14), Jordan Spieth (15), Keegan Bradley (16), Cameron Young (19), Sam Burns (20), Jason Day (21), Tony Finau (22), Rickie Fowler (23), Sepp Straka (24), Justin Thomas (26), Lucas Glover (31), Will Zalatoris (33), Justin Rose (39) en Tiger Woods (1 316).
- Bykomende bron: PGA Tour