LIV-reeks kry bloedneus in hof

(Foto: Talor Gooch/ AFP)

Die omstrede LIV-gholfreeks het gister bloedneus gekry nadat ʼn regter in die staat Kalifornië beslis het die PGA-reeks se skorsing van drie LIV-spelers is vir eers geldig.

Talor Gooch, Matt Jones en Hudson Swafford het hulle tot ’n hof in San José gewend en gevra dat hul tydelike skorsing deur die PGA-reeks opgehef word sodat hulle van Donderdag af in die Amerikaanse reeks se laaste drie uitspeel-toernooie kan meeding.

Die drie uitspeel-toernooie het ’n totale prysgeld van $75 miljoen (sowat R1,23 miljard) met die uiteindelike kampioen wat $18 miljoen (nagenoeg R300 miljoen) ryker sal wees.

Die drie LIV-spelers wat hulle tot die hof gewend het, is deel van ’n groep van tien spelers wat die PGA-reeks dagvaar weens hul skorsing deur die reeks nadat hulle hul by Greg Norman se Saoedi-Arabiese uitnodigingsreeks aangesluit het.

’n Elfde speler, Carlos Ortiz van Mexiko, was aanvanklik deel van die hofgeding, maar het hom gister op die nippertjie aan die regsgeding onttrek.

Die beswaarde spelers voer aan die PGA-reeks se optrede teen hulle oortree die Amerikaanse wet op die onderdrukking van monopolieë en dat die spelers as onafhanklike kontrakteurs die keuse het om te kies in watter toernooie hulle wil speel.

Deur hulle te verbied om in ’n sekere toernooie te speel, bereken hulle groot finansiële skade, het die drie geskorste spelers gister in ’n dringende aansoek aangevoer.

Die regter in die hofsaak, Beth Labson Freeman, het tydens betoë gesê dit wil vir haar voorkom of die LIV-spelers meer verdien uit die geld wat hulle ontvang om by die LIV-reeks aan te sluit as wat hulle enigsins in die PGA-reeks kan verdien, waarna sy die drie spelers se aansoek van die hand gewys het.

Die groter saak oor die oortreding van Amerikaanse wetgewing jeens die onderdrukking van die spelers se regte, sal volgens aanduidings aanstaande maand of vroeg in Oktober aangehoor word.

Die LIV-reeks het op die oomblik geen toernooie nie en word eers aanstaande maand met die laaste vyf toernooie van hul eerste seisoen hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.