Louis bult spiere op sy ‘eie’ baan

Louis Oosthuizen (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Dit gebeur nie aldag dat ʼn gholfspeler wat ʼn baan help ontwerp het, in die wedloop is om ʼn toernooi in die DP World Tour (Europese reeks) op sy “eie” baan te wen nie.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, wat die La Réserve Golf Links-baan in Mauritius saam met Peter Matkovich ontwerp het, is ná die tweede ronde van die Mauritius-Ope net drie houe agter die voorloper, die Sweed Sebastian Söderberg.

Söderberg het 65 houe in die tweede ronde aangeteken en loop op 134 (-10) met een hou voor die 23-jarige Suid-Afrikaner Jacques P de Villiers en Marcel Schneider van Duitsland, wat albei op 135 (-9) geëindig het.

Paul Waring en Daniel Brown van Engeland en die huidige kampioen, Antoine Rozner van Frankryk, is saam vierde 136 (-8).

Söderberg, wat in 2019 sy eerste oorwinning in die DP World Tour gewen het nadat hy Rory McIIroy, Kalle Samooja, Lorezi Gagli en Andres Romero in ʼn uitspeelstryd in die Europese Meesters geklop het, is sedertdien segeloos.

Hy was weliswaar in ses toernooie tussen die voorste tien spelers.

De Villiers, wat ʼn lid van die Schoemanpark-gholfklub in Bloemfontein is, is maar 783ste op die wêreldranglys, maar hy het Vrydag soos ʼn veteraan vertoon.

Hy het op die 10de putjie afgeslaan en met voëltjies op die 10de, 12 en 13de putjies begin, maar houe op baansyfer op die 14de en 15de putjies afgestaan.

Hy het op die 18de ʼn voëltjie behaal en dit opgevolg met nog ʼn voëltjie op die vyfde voordat hy met ʼn arend op die 8ste afgesluit het.

Oosthuizen, wat verlede week se Alfred Dunhill-toernooi by Leopard Creek gewen het, het 68 houe in die eerste ronde aangeteken en in die tweede met 69 houe opgevolg.

Hy is saam sewende (137, -7) nadat hy vyf voëltjies behaal het, maar het op die 7de en 8ste putjies houe aan baansyfer afgestaan.

ʼn Groot gros Suid-Afrikaners speel in dié toernooi met Lyle Rowe, Wilco Nienaber en Dylan Naidoo (almal 137), Brandon Stone, Darren Fichardt en Pieter Moolman (almal 139), Jaco Prinsloo, Louis de Jager, Jayden Schaper (almal 140) en Oliver Bekker, Casey Jarvis en Ryan van Velzen (almal 140) wat saam met De Villiers en Oosthuizen die beste gevaar het.

  • Bykomende bron: European Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.