Louis kry sy neus voor

Louis Oosthuizen in 2020 gedurende die tweede ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen sal wat wil gee om die 18de putjie (syfer 5) op Torrey Pines in San Diego, Kalifornië, oor en oor te speel in die laaste ronde van die Amerikaanse Ope-gholftoernooi.

Oosthuizen het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) net soos in die eerste en tweede rondes, met ʼn skitterende eindpoging die kaarte behoorlik deurmekaar geskommel.

Hy loop ná sy derderonde-telling van 70 houe saam voor met Russell Henley van Amerika en Mackenzie Hughes van Kanada op 208 (vyf houe onder die baansyfer).

Hulle word op 210 gevolg deur Rory McIlroy van Noord-Ierland en verlede jaar se kampioen, Bryson de Chambeau.

Christiaan Bezuidenhout is in die negende posisie op 212, net vier houe agter Oosthuizen-hulle.

Branden Grace (216) en Charl Schwartzel (albei 216) hou ook die fort, gevolg deur Dylan Frittelli (217).

Wilco Nienaber het 80 houe in die derde ronde aangeteken en is laaste op 226 in sy eerste Ope.

Hy sal eerste afslaan en sy ronde alleen voltooi.

Oosthuizen het in die eerste ronde voëltjies op die 16de, 17de en 18de putjies aangeteken nadat hy effe uit die wedloop as een van die voorlopers gesak het.

Hy het ook in die tweede ronde ʼn voëltjie op die 18de putjie aangeteken en in die derde ronde weer ʼn voëltjie op die 16de aangeteken. Hy het dit opgevolg met ʼn arend ná ʼn monster-sethou van 50 voet en skielik was hy bo-aan die telbord, nadat hy vroeër op die 1ste, 7de, 10de en 14de putjies houe aan syfer afgestaan het.

Die laaste drie putjies het hy tot dusver in sewe houe (vyf voëltjies en ʼn arend) onder baansyfer voltooi.

Hou maar duim vas dat hy dit ook in die laaste ronde kan doen, want dié man verdien meer as net een Major (in 2010 in die Britse Ope) op sy kerfstok.

Oosthuizen slaan Sondagaand saam met Hughes af in die laaste tweebal, met Henley en McIlroy wat voor hulle afslaan.

De Chambeau speel saam met Matthew Wolffe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.