Louis loop hom vas teen ‘Die Wetenskaplike’

Louis Oosthuizen. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Lig maar die hoed vir Suid-Afrika se Louis Oosthuizen nadat hy laat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) derde in die Amerikaanse Ope-gholftoernooi op Winged Foot buite New York geëindig het.

Ja, dalk was dit effe van ʼn teleurstelling omdat hy nie kon wen nie, maar om slegs een van twee nie-Amerikaners in hul eie agterplaas te word (die ander was die Noord-Ier Rory McIlroy) wat tong kon uitsteek deur in die toptien te eindig, is ʼn uitsonderlike prestasie.

Om boonop met R14 026 129 in jou bankrekening vir jou derde plek wakker te word, is waarvan lugkastele gebou word.

Oosthuizen, wat 73 houe in die laaste ronde aangeteken het, het op 282 agt houe agter die 27-jarige Amerikaner Bryson DeChambeau geëindig, wat die laaste ronde in 67 houe voltooi het.

Bryson DeChambeau. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

DeChambeau, wat op 274 houe geëindig het, was die enigste speler wie se totaal beter as baansyfer was. Hy het ses houe voor die 21-jarige groentjie Matthew Wolff (280) geëindig, wat ná die derde ronde voorgeloop het, maar onder die druk gevou het.

Wolff het 75 houe in die laaste ronde op sy telkaart ingevul.

Oosthuizen het een hou voor nog ʼn Amerikaner, Harris English (283), geëindig, met Xander Schauffele (284) in die vyfde posisie.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (290) het verdienstelik 23ste geëindig, met Christiaan Bezuidenhout (300) in die 55ste posisie.

Oosthuizen se vierde ronde het slegs twee voëltjies op die 6de en 18de putjies ingesluit, terwyl hy op die 4de, 8ste, 10de, 15de en 17de houe aan baansyfer ingeboet het.

DeChambeau, wat fisika op universiteit gestudeer het, het die doelpale van gholf verskuif.

Bryson DeChambeau. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Sy bynaam is nie verniet “Die Wetenskaplike” nie, omdat hy baie dinge probeer wat voorheen nie gedoen of selfs as aanvaarbaar beskou is nie.

Baie van sy teenstanders en kritici sê hy is irriterend, veral omdat sy uitgangspunt is om die bal so ver as moontlik te slaan. Hy sal nie sy stempel in groot toernooie kan afdruk nie, is daar menigmaal gesê en geskryf. Hoe verkeerd was hulle nie, want met sy setwerk en kortspel is daar ook byna geen fout nie.

DeChambeau, wat eers in 2016 ʼn beroepspeler geword het, het al sy stokke tot die dieselfde lengte afgesny en sy grepe dikker gemaak.

Hy glo aan ʼn dieet van tussen 3 000 en 3 500 kalorieë per dag. Boonop het hy byna 18 kg se spiermassa in die gimnasium opgebou.

Is hy ʼn frats? Nee, want enige speler wat saam met die legendariese Jack Nicklaus en Tiger Woods die enigste drietal is om in die Amerikaanse Ope, die Amerikaanse amateurtitel en as Universiteitekampioen gekroon te word, ken al die geheime van gholf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.