Marc Player steeds ontevrede met pa se toekenning

Gary Player. Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP.

Marc Player, seun van die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player, wil hê sy pa moet Bill Belichick se voorbeeld volg en sy presidensiële medalje van vryheid van die hand wys.

Die 68-jarige Belichick, wat al ses Super Bowl-titels saam met die Patriots gewen het en as die beste Amerikaanse voetbalafrigter nóg bestempel word, het pres. Donald Trump van Amerika se eerbetoon van die hand gewys.

Volgens die hoogs aangeskrewe afrigter het die onlangse gebeure in Washington ’n invloed op sy besluit gehad het. Betogers, hoofsaaklik Trump-ondersteuners, het twee weke gelede die kongresgebou in Washington bestorm.

“Een van die lonendste dinge in my beroepsloopbaan het verlede jaar plaasgevind toe ons span se gesprekke oor maatskaplike geregtigheid, gelykheid en regte in optrede oorgegaan het. Hierdie voortgesette pogings, terwyl ek getrou bly aan die mense en die land waarvoor ek so lief is, het baie meer waarde as enige individuele toekenning,” het Belichick in ’n amptelike verklaring gesê.

Bill Belichick. Foto: Maddie Meyer/Getty Images/AFP.

Daarteenoor het die 85-jarige Player, een van die wêreld se voorste gholfspelers ooit, verlede week saam met Swede se Annika Sörenstam die toekenning in ontvangs geneem.

Nodeloos om te sê, die legendariese Player het onder kritiek deurgeloop en sy seun het onder meer gesê dat sy pa pleinweg moes weier om die eerbetoon te ontvang.

“Ek wens regtig dat my pa op hierdie oomblik die ‘toekenning’ eenvoudig en beleefd van die hand gewys het,” het hy op Twitter geskryf.

“Toondoof. In ontkenning. Verkeerd,” het hy bygevoeg.

Nou het Marc – wat al vantevore in die openbaar gesê het dat sy verhouding met sy pa versleg het – Belichick se verklaring op sy Twitter-rekening gedeel.

“Ek wens my pa het iets soortgelyks gedoen; trouens ek moedig hom aan om steeds dieselfde te doen. Dit is nog nie te laat om dit met dankbaarheid terug te gee en ’n mate van eer, waardigheid en selfrespek te behou nie,” het die 60-jarige gesê.

Op die gholfbaan was Gary Player egter in ’n klas van sy eie.

Gary Player (links) en Jack Nicklaus (regs) Foto: Don Emmert/AFP.

In ’n loopbaan wat oor sewe dekades strek, het Player onder meer die Bob Jones-toekenning in 1966 ontvang; die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler was om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl oudpres. Thabo Mbeki hom ook met die Orde van Ikhamanga (in goud) vereer het.

“Om as ’n internasionale atleet die hoogste eerbetoon vir Amerikaanse burgers van die president te ontvang, is beslis iets wat ek vir altyd sal koester,” het hy verlede jaar gesê.

“Ek is baie bevoorreg om ’n wêreldambassadeur vir gholf te wees, maar dit is my liefde vir my naaste wat my geïnspireer het om aan te hou reis en my beste te doen om mense te verenig en geld in te samel vir diegene wat dit broodnodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Kinderagtig.

Adam Adriaan

Gary moet sy seun ‘n rege rig gee so op sy ou dag

Chris

Die Player kind is te groot vir sy skoene en lei aan ‘n ergere minderwaardigheidskomplek.Hy klink vir my nog emosioneel onvolwasse. Hy het nie die deursettingsvermoe wat sy pa het om dieselfde hoogtes te bereik nie, Lag hom af oom Gary en steur jou nie aan die bedorwe snuiter nie.

Oom Kobus

Marc Player,
Is 60 jr oud, hy het op sy Pa se rug gery. Met die beste afrigting ter wêreld, was hy onsuksesvol as gholfspeler.
Hy was onsuksesvol as HB van die Player promosie maatskappy en is deur sy jonger suster vervang.
Hy kon nie Gary se Gholfbaan ontwikkelings besigheid bedryf nie.
As perdeboer op Pa Gary se plaas by Colesberg, kon hy dit ook nie maak nie.
Nou is hy op 60 arrogant genoeg om Gary “Dié Swart Ridder” (“The Black Knight”) van Gholf te gekritiseer.
Gary, op meriete, verdien jy enige toekenning wat aan jou gedoen word.
Pas julself op,
Oom Kobus

Piet

Het meer guts as sy pa. Bravo