McIlroy onstuitbaar in Amerikaanse PGA-reeks

Rory McIlroy se oorwinning sal sy selfvertroue ʼn welkome hupstoot gee vir die komende Amerikaanse PGA-toernooi wat op die Valhalla-gholfbaan in Kentucky beslis word. (Foto: Andrew Redington/Getty Images/AFP)

Daar is ʼn ou waarheid in sport wat lui dat peil tydelik is, maar gehalte permanent.

Dit het die Noord-Ier Rory McIlroy Sondagaand op Quail Hollow in Noord-Carolina opnuut onderstreep toe hy die Wells Fargo-gholftoernooi met prysgeld van $20 miljoen (sowat R386 miljoen)  ʼn vierde keer gewen het.

McIlroy, die tweede beste speler op die wêreldranglys, het met ʼn agterstand van twee houe in die laaste ronde afgeslaan, maar het vroeg in die ronde die aanslag van Xander Schauffele uit sy pad gevee.

McIlroy het op 267 houe (-17) afgesluit nadat hy 65 houe in die vierde ronde aangeteken het.

Dit was sy tweede opeenvolgende oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks nadat hy twee weke gelede die Zürich Classic gewen het toe hy en die Ier Shane Lowry die toernooi vir spanne gewen het.

McIlroy het Sondagaand die laaste 11 putjies in ses houe onder baansyfer voltooi nadat hy op die laaste putjie verbrou het toe hy twee houe aan baansyfer afgestaan het.

McIlroy se oorwinning sal sy selfvertroue ʼn welkome hupstoot gee vir die komende Amerikaanse PGA-toernooi wat op die Valhalla-gholfbaan in Kentucky beslis word. Hier het hy tien jaar gelede sy laaste Major-toernooi gewen.

Schauffele was Sondagaand tweede op 272 (-12) nadat hy 71 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Beyong-Hun Am van Suid-Korea was derde (275, -9), met die Australiër Jason Day en Sung-Jae Am (Suid-Korea) saam vierde op 278 (-6).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (283, -1) was saam 16de.

* Chris Gotterup het op die Dunes-gholfbaan in Myrtle Beach die Myrtle Beach Classic gewen, wat ook deel van die Amerikaanse PGA-reeks is, maar saam met die Wells Fargo-toernooi gespeel is.

Gotterup het op 262 houe (-22) geëindig.

Hy is gevolg deur Alistair Docherty (64) en Davis Thompson (68) wat saam in die tweede plek was.

Ryan McCormick (64) was ʼn hou verder terug, met Suid-Afrika se Erik van Rooyen (70) wat saam met Beau Hossler (67), Kevin Yu (67), Ryan Fox (67) en Jorge Campillo (70) saam vyfde was.

* In Clifton in New Jersey het die 20-jarige Amerikaner Rose Chang ʼn einde gebring aan haar landgenoot Nelly Korda se oorwinningstog in die Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue.

Zhang het die Cognizant Classic-toernooi met twee houe gewen toe sy Madelene Sagström van Swede uitgestof het.

Zhang het op 264 (-24) geëindig nadat sy die laaste ronde in 66 houe voltooi het.

Sagström was op 266 (-22) tweede met Gabriela Ruffels van Australië derde op 279 (-9).

China se Ruoing Yin en Xiyu Lin van China en Peyun Chien van Taiwan was saam vierde op 280 (-8).

Korda, wat op soek was na ʼn rekordgetal van ses opeenvolgende oorwinnings, het saam sewende geëindig nadat sy 73 houe in die vierde ronde aangeteken het.

Sy het op 283 houe (-7) geëindig.

* Suid-Afrika se Casandra Alexander het in Suid-Korea derde geëindig in die Aramco-toernooi wat deel is van die Europese reeks vir vroue.

Hy-Joo Kim van Suid-Korea was eerste op 206 (-10) gevolg deur Charley Hull (Engeland) op 209 (-7) met Alexander en Maria Uribe van Spanje saam derde op 211 (-5).

* Suid-Afrika se Michael Hollick het op Royal Harare in die Zimbabwiese Ope sy tweede oorwinning in die Sonskynreeks behaal toe hy die 48-jarige veteraan Darren Fichardt uitgestof het.

Hollick het die laaste ronde in 67 houe voltooi. Hy het met ’n voorsprong van een hou bo Fichardt afgeslaan.

Fichardt was tweede nadat hy 68 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Zimbabwe se Scott Vincent was derde op 14 houe onder baansyfer met sy jonger broer KIeran en die Sweed Fredrik From vierde.

  • Bronne: The Golf Channel, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.