Mcllroy die gunsteling, maar verrassings is moontlik

Rory Mcllroy. Foto: Michael Sherman/ANA

Rory Mcllroy. Foto: Michael Sherman/ANA

Rory Mcllroy, tans tweede op die wêreldranglys en 2016 se FedExbeker-wenner, slaan Donderdag op die Glendower-gholfbaan in Ekurhuleni in die eerste ronde van die 106de SA Ope Gholfkampioenskap af as die groot gunsteling.

Uiteraard sal die Noord-Ier die grootste trekpleister wees, maar hy is nie die enigste gholfspeler van formaat wat deelneem nie.

Benewens Mcllroy is neem nog vier Major-wenners deel: Nick Faldo, Darren Clarke, Retief Goosen en Ernie Els. Maar hul prestasies lê in die verlede en dit sal werklik verbaas as hulle met die titel wegstap.

Gholf bly egter onvoorspelbaar …

Els, die gasheer-speler van die toernooi en die een wat die krediet moet kry daarvoor dat Mcllroy ingestem het om deel te neem, is natuurlik ʼn groot gunsteling van die gholfentoesiaste.

Die toernooi ondersteun Els se stigting vir outisme.

Brandon Stone. Foto: Michael Sherman/ANA

Brandon Stone. Foto: Michael Sherman/ANA

Die verdedigende SA Ope-kampioen en wenner van die Alfred Dunhill-Kampioenskap, Brandon Stone, sal ook in aksie wees. Sy kanse moet nie afgeskryf word nie.

Twee ander voormalige wenners, Andy Sullivan (2015) en Morten Orum Madsen (2013) en voorste spelers, soos onder meer Hennie Otto, George Coetzee, Richard Sterne en Jaco van Zyl sal ook aanspraakmakers op die titel wees, maar drie van Suid-Afrika se bestes, Branden Grace, Charl Schwartzel en Louis Oosthuizen, neem nie deel nie.

Die baie reën kan volgens Els ʼn positiewe en negatiewe uitwerking op die Glendowerbaan hê. Die baan sal langer speel en die setperke sal stadiger wees. Die spelers sal moontlik toegelaat word om hul balle op te tel en skoon te maak, maar die ru-veld sal digter as gewoonlik wees en spelers wat op die skoonveld kan bly, sal goed vaar.

Mcllroy is, ongeag die speeltoestande, die groot gunsteling. Hy het beklemtoon dat hy nie op ʼn Afrika-bosvakansie is nie; hy is hier om te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.