Mcllroy skitter met vyf onder syfer; 2 van SA voor hom

Rory McIlroy Donderdag by die SA Ope Gholfkampioenskap op die Glendowerbaan. Foto: Michael Sherman

Rory McIlroy Donderdag by die SA Ope Gholfkampioenskap op die Glendowerbaan. Foto: Michael Sherman

Rory Mcllroy, die gunsteling en die middelpunt van die belangstelling by die SA Ope Gholfkampioenskap op die Glendowerbaan, het Donderdag sy status as die wêreld se tweede beste speler gestand gedoen deur die eerste ronde in 67, vyf onder baansyfer, te voltooi.

Maar twee Suid-Afrikaners, die 37-jarige wenner van die 2015 Afrika Ope, Trevor Fisher Jr. en Keith Horne, is die gesamentlike voorlopers met ʼn telling van 66, ses houe minder as syfer. Nog twee Suid-Afrikaners, Jbé Kruger, Thomas Aiken en Dean Burmester, is saam met Mcllroy op 67 in die gesamentlike derde plek.

Benewens McIlroy het die ander vier spelers wat al Major-toernooie gewen het minder goed gevaar. Ernie Els het twee houe swakker as syfer gespeel en Retief Goosen sal sukkel om die afsnypunt na twee rondes ná Donderdag se agt-oor te maak.

Darren Clarke met 70 en Nick Faldo met 71 is egter steeds sterk in die wedloop.

Die verdedigende kampioen, Brandon Stone, wat een van die groot gunstelinge is, het soos Els twee houe meer as syfer gespeel. Hulle is nou agt houe agter die voorlopers Fisher en Horne en sewe agter McIlroy-hulle in die derde plek, en dit sal vir hulle harde werk en konstante goeie gholf kos om die titel te wen.

Mcllroy het vroeg van die tiende bof afgeslaan en sewe voëltjies ingeryg waarvan vier opeenvolgend vanaf die 14e tot 17de putjies was. Hy het die toeskouers op sy eerste putjie getrakteer met ʼn 300 meter-bofhou.

Hy het wel op die vierde en vyfde putjies houe laat val, maar amper ʼn volmaakte gelukhou op die syfer 3 sesde putjie behaal. Hy het ook in die ru-veld beland op sy laaste drie putjies maar dit suksesvol met syfer voltooi.

Trevor Fisher Jr. het ook vroeg afgeslaan en glad nie goed begin nie. Hy het ʼn hou by die 11de (sy tweede) putjie laat val, maar toe ses voëltjies ingeryg om met ʼn telling van 31 te draai. Hy het net een verdere voëltjie oor die tweede nege behaal. Thomas Aiken het gelyk aan syfer gedraai en toe ses voëltjies in die tweede nege ingerol om net een hou agter die voorloper te eindig.

♦  Suid-Afrikaners, wat 13 van die laaste 19 Ope-toernooie gewen het, staan ook van sterk tot redelik sterk ná die eerste ronde.

Benewens bogenoemdes onder die voorlopers is die ander Suid-Afrikaanse spelers wat onder syfer klaargemaak het:
69:  Shaun Norris, Darren Fichardt, Colin Nel, Ulrich van den Berg en Justin Walters;

70:  James Kampte, George Coetzee, Tich Moore, Jean Hugo, Neil Schietekat, Garth Mulroy,  Justin Harding, Michael Hollick en Christiaan Bezuidenhout; en

71:  Jaco van Zyl, Garth Mulroy, Dylan Frittelli, Dawie Van der Walt en Kyle Mcclatchie (amateur).

♦  Daar het 53 spelers beter as syfer gespeel en 23 het die eerste ronde in syfer 72 voltooi. Dus het 76 van die 156 spelers wat afgeslaan het, syfer of beter aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.