Min kry SA gholfspelers onder

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Neil Schietekat. (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Die woorde “tou opgooi” bestaan oënskynlik nie in die woordeskat van sommige Suid-Afrikaanse gholfspelers nie.

Ná ʼn paar beskeie vertonings in die eerste tweede rondes van toernooie in Kaapstad, in Tenerife, Spanje, en in Florida, VSA, is die vlam in die derde ronde weer aangesteek en is die kans daar dat nog Suid-Afrikaners hul name in die rekordboeke kan verewig ná verlede week se ongekende welslae.

Neil Schietekat en Jacques Blaauw loop saam met die Spanjaard Santagio Tarrio voor ná die derde ronde van die Kaapstad-ope wat by die Royal Cape-buiteklub beslis word.

Dié drie spelers is almal op 205 nadat Schietekat 67 houe en die derde ronde aangeteken het en Blaauw 70.

Hulle word in die gesamentlike vierde posisie gevolg deur nog ʼn Spanjaard, Emilio Cuatero Blanco, Mikael Lindberg van Swede en die Nieu-Seelander Daniel Hillier (207).

* Op die Cotta Adeje-baan in Spanje is Dean Burmester (197) net een hou agter die gesamentlike voorlopers, Nicolai von Deelingshausen van Duitsland en Kalle Samojja (albei 196) van Finland.

Burmester word gevolg deur nog ʼn Suid-Afrikaner Garrick Higgo (199), wat verlede week se Gran Canaria-ope in Spanje gewen het.

Higgo het Saterdag 66 houe in die derde ronde aangeteken en sy beste peil vinnig herwin.

Nog ʼn paar Suid-Afrikaners, Louis de Jager en Justin Harding (albei op 201) en Zander Lombard en Justin Walters (albei 203) is ook nog binne trefafstand. Walters het juis 65 houe in die derde ronde aangeteken.

* In die Amerikaanse PGA-reeks by Palm Harbor in Florida het Louis Oosthuizen 66 houe in die derde ronde van die Valspar-kampioenskap aangeteken en is hy op 206, sewe houe agter die voorlopers, die twee Amerikaners Sam Burns en Keegan Bradley (albei 199).

Charl Schwartzel het na ʼn goeie begin uitgesak en 74 houe aangeteken. Hy is op 209.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.