Nege SA’ners onder 100 beste gholfspelers

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen. Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP.

Ná sy heldedade by die Amerikaanse PGA-kampioenskap tel Suid-Afrika se Louis Oosthuizen weer onder die 20 topgholfspelers ter wêreld.

Die 38-jarige speler het saam met die Amerikaner Brooks Koepka tweede op die Kiawah-eilandbaan geëindig om ’n tjek van R14,7 miljoen in sy sak te steek.

Maar waar Oosthuizen so byna die septer in Suid-Carolina geswaai het, is daar ’n rits ander Suid-Afrikaanse gholfspelers wat ook besig is om amok op die wêreldverhoog te maak.

Die land spog met nege gholfspelers onder die 100 topspelers ter wêreld. Benewens Oosthuizen pryk Christiaan Bezuidenhout, Garrick Higgo, Daniel van Tonder, Erik van Rooyen, Dylan Frittelli, Dean Burmester, Brandon Stone en Branden Grace in gholf se uitgelese geselskap.

Suid-Afrika se Garrick Higgo. Foto: Ben Stansall/AFP.

En om hierdie prestasie in perspektief te plaas: Australië het ses spelers in die top-100-lys, terwyl die ganse Europa net 17 meer spelers as Suid-Afrika tussen die wêreld se bestes het.

Dan het George Coetzee (102), Shaun Norris (105) en Charl Schwartzel (110) net een of twee goeie toernooie nodig om weer saam met die heel bestes te gesels.

Die kersie op die Suid-Afrikaanse gholfkoek – ’n baksel wat amper weekliks soeter smaak – is dat Bezuidenhout, Higgo en die belowende Wilco Nienaber deel van die Amerikaanse Ope-aksie sal wees.

Hierdie toernooi begin op 17 Junie.

Suid-Afrika se voorste gholfspelers:

Louis Oosthuizen (20)

Christiaan Bezuidenhout (43)

Garrick Higgo (52)

Daniel van Tonder (79)

Erik van Rooyen (84)

Dylan Frittelli (85)

Dean Burmester (88)

Brandon Stone (89)

Branden Grace (90)

George Coetzee (102)

Shaun Norris (105)

Charl Schwartzel (110)

Justin Harding (128)

Wilco Nienaber (140)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.