Nelly Korda herskryf die rekordboeke

Nelly Korda van die VSA (28 Maart 2024) (Foto: Christian Petersen/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaner Nelly Korda het haar Sondagaand op die Woodlands-baan in Texas by die legendes van vrouegholf aangesluit toe sy haar vyfde opeenvolgende toernooi in die Amerikaanse LPGA-reeks gewen het.

Korda, suster van die tennisspeler Sebastian Korda en dogter van die eertydse Major-wenner (tennis) Petr Korda, het die laaste ronde van die Chevron-toernooi in 69 houe voltooi en op 275 houe (-13) afgesluit.

Sy het Maja Stark van Swede (277, -11) met twee houe geklop.

Lauren Coughlin (VSA) en Brooke Henderson (Kanada) was saam derde op 278 houe (-10).

Korda, wat tellings van 68, 69, 69 en 69 in haar vier rondes aangeteken het, het in die laaste ronde met ʼn agterstand van een hou afgeslaan nadat die derde ronde vroeër in die dag voltooi is nadat dit weens ongure weer uitgestel moes word.

Korda het haar nou by ander grotes soos Nancy Lopez (1978) en Annika Sorenstam (2004-2005) aangesluit wat ook vyf LPGA-toernooie na mekaar kon wen.

Die 25-jarige Korda is met die prysgeld van $1,2 miljoen (R22,8 miljoen) beloon wat haar totale prysgeld ná vyf oorwinnings op $2 424 216 (sowat R 46 miljoen) te staan bring. Sy het nou reeds $11 361 489 ( bykans R216 miljoen) in haar loopbaan verdien.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se RCB Heritage-toernooi wat by Hilton Head Island gespeel word, loop die Amerikaner Scottie Scheffler met vyf houe voor, maar hy sal tot Maandag moet wag om sy laaste ronde te voltooi om sy derde oorwinning in vier toernooie (insluitende die Amerikaanse Meesters) te behaal.

Die laaste ronde, wat vroeër deur swak weer met twee uur en 32 minute onderbreek is, kon weens die donkerte wat toegesak het nie voltooi word nie.

Scheffler was op die 16de putjie toe daar halt geroep is.

Die Amerikaner Wyndham Clarke is die klubhuisvoorloper op -15, maar hy sal (na alle waarskynlikheid) deur Scheffler verbygesteek word.

Nog twee Amerikaners, Patrick Cantlay en JT Poston, is ook op -15 en moet nog die 18de putjie voltooi.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (276, -8) is saam 28ste met Erik van Rooyen op 277 (-7).

* In die Joburg-Ope vir vroue wat op die Modderfontein-baan beslis is, het Chiara Tamburlini van Switserland die toernooi met sewe houe gewen nadat sy die laaste ronde in 67 houe voltooi het. Sy het op 275 houe (-17) geëindig.

Die 25-jarige Tamburlini het reeds drie toernooie in haar loopbaan gewen, maar dit was haar eerste sege in die Europese reeks vir vroue. Sy is ʼn voormalige Switserse junior kampioen en het in 2021 die Switserse Ope vir vroue gewen.

Sy is in die tweede posisie gevolg deur Aunchisa Utama van Thailand (282, -10) met Spanje se Luna Sobron en Diksha Dagar van Indië saam derde op 283 (-9).

Suid-Afrika se Nicole Garcia was vyfde op 284 (-8) met die belowende Nadia van der Westhuizen, wat die laaste ronde in 73 houe voltooi het, wat op 287 houe (-5) in die tiende posisie klaargemaak het.

Sy is gevolg deur haar landgenote Casandra Alexander (287), Ivanna Samu (294), Danielle du Toit, Stacy Lee Bregman, Lora Assad en Lee-Anne Pace wat almal saam op 294 houe geëindig het.

Bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.