Net Ernie van SA hou kop in Augusta se sterk rukwinde

Ernie Els – syfer in moeilike omstandighede

Op ʼn dag waar die wind die wenner was en net 11 uit die 93 spelers in die eerste ronde van die Meesterstoernooi op Augusta beter as syfer gespeel het, het die Suid-Afrikaanse spelers met die uitsondering van Ernie Els maar gesukkel.

Na die eerste ronde van die 81ste Meesterstoernooi was die voorloper Charley Hofmann op sy sewe-onder 65, vier houe voor William McGirt (69). Hulle was die enigste spelers wat minder as 70 houe gespeel het.

Die spelers moes Donderdag die sterk rukwinde en ʼn nat baan trotseer en ondanks die helder sonskyn was dit koud. Die veld was aanvanklik redelik nat maar die wind het die setperke uitgedroog.  Die kommentators het die omstandighede as die moeilikste in jare beskou en sterk wind word weer vir Vrydag voorspel.

Ernie Els, die veteraan wat in sy 24ste Meesterstoernooi afgeslaan het, het die beste van die Suid-Afrikaanse spelers gevaar. Sy syfer-telling van 72 plaas hom gesamentlik 12de.

Hy het oor die eerste nege effens gesukkel en drie houe afgestaan, maar oor die tweede nege putjies was daar ʼn verrassende ommekeer in sy spel.

Els het voëltjies op die 13de, 15de, 16de en 17de aangeteken en skielik op een-onder gestaan., maar dit op die 18de met ʼn swak bofhou ongedaan gemaak. Sy sethou vir syfer was naelskraap mis en hy het dus sy ronde in syfer voltooi.

In ag genome  dat Els in sy laaste sewe toernooie nie die afsnypunt oorleef het nie, was sy spel ʼn baie aangename verrassing in wat moontlik sy laaste Meesters sal wees.

Charl Schwartzel se ronde van 74, twee-oor, is ook oor die tweede ronde gered toe hy twee voëltjies op die 15de en 16de aangeteken het om sy insinking van vier brouhoue oor die eerste nege gedeeltelik uit te wis.

♦  Branden Grace se eerste paar putjies was teleurstellend. Twee oor op die eerste putjie, ʼn brouhou op die tweede, derde en negende het sy ideale geknou, en nóg een het ondanks twee voëltjies by die twee syfer vyfs van die tweede nege aan hom ʼn telling van vier-oor 76 besorg.

♦  Louis Oosthuizen het nóg swakker as Grace begin. Hy het vier houe by putjies twee tot vyf afgestaan, dadelik twee voëltjies aangeteken en toe redelik konstant gespeel met ʼn sethou of twee wat net nie wou val nie.

Maar toe, by die 15de, het hy ʼn liederlike agt – drie-oor – aangeteken toe hy met sy naderhou in die water beland en toe vrot geset het. ʼn Voëltjie op die laaste putjie het aan hom ʼn telling van 77 gegee – en hy sal Vrydag moet uithaal om die afsnypunt te oorleef.

♦  Wat van Trevor Immelman se gholf geword het, sal net ʼn sielkundige kan verduidelik. As 28-jarige het hy die einste toernooi gewen, maar die afgelope nege jaar ploeter hy voort en is nou gesamentlik 1 893ste op die wêreldranglys.

Hy het Donderdag vyf houe oor die eerste nege en toe nog drie daarna laat val en net ʼn enkele voëltjie aangeteken. Sy telling van 79 is die vierde swakste.

♦  Dustin Johnson, die wêreld se voorste speler het Woensdag op die trappe in sy huurhuis gegly en sy elmboog en rug beseer. Hy het gehoop  dat hy wel sou kon speel maar het net voor sy afslaantyd (die laaste van die dag) hom aan die toernooi onttrek.

Hy het gevoel dat hy met net ʼn 70% swaai nie mededingend sou wees nie.

Vir die volledige tellings van die eerste ronde klik op http://www.masters.com/en_US/scores/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.