Nienaber se nagmerrie in derde ronde  

Wilco Nienaber tydens ‘n toernooi in San Diego in 2018. (Foto: Sean M. Haffey / Getty Images via AFP)

Daar is min dinge wat ʼn professionele gholfspeler se dag só bederf as wanneer hy reeds op die eerste putjie ʼn hou aan baansyfer afstaan.

Dit het die jong Suid-Afrikaner Wilco Nienaber Saterdag in Doha in die derde ronde van die Katar Meesterstoernooi oorgekom, nadat hy 74 houe (+2) aangeteken het.

Nienaber het weliswaar drie voëltjies op die 9de, 10de en 16de putjies aangeteken, maar houe aan baansyfer op die 1ste, 4de (twee houe), sesde en 17de putjies afgestaan om die ronde in 74 houe te voltooi. Dit nadat hy die eerste tweede rondes in 68 houe voltooi het en Saterdagoggend in die tweede posisie afgeslaan het.

Die Engelsman Matthew Jordan en Adrian Meronk van Pole loop saam voor op 208 houe (-8).

Hulle is een hou voor Kalle Samooja van Finland, wat derde is op 209 (-7).

Nienaber is saam met twee Spanjaarde, Adrian Otaegui en Pablo Larrazabal, vierde op 210 (-6). Laasgenoemde het twee weke gelede die MyGolfLife-toernooi op die Pecanwood-landgoed in die Hartbeespoort gewen.

Suid-Afrika se Zander Lombard is op 212, Brandon Stone en Justin Walters saam op 213, Justin Harding op 214 en George Coetzee en Hennie du Plessis albei op 215.

Putjiespelkampieonskap

In Austin, Texas, kon nie Louis Oosthuizen óf Christiaan Bezuidenhout die eerste ronde van die Wêreldputjiespelkampioenskap oorleef nie.

Oosthuizen is met een voor deur Alex Noren van Swede geklop en Tyrrell Hatton van Engeland het Bezuidenhout met 3&2 uitgeskakel.

Vrouegholf

In Modderfontein loop die Skot Linn Grant voor ná die derde ronde van die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue.

Sy het rondes van 72, 69 en 67 op haar telkaart ingevul en is op 208 (-11), vyf houe voor Kim Metraux van Switserland (213, -6).

Metraux word gevolg deur Maria Hernandez van Spanje, Suid-Afrika se Nicole Garcia en Alice Hewson van Engeland, wat al drie op 214 houe (-5) staan.

Kelley Whaley van die VSA staan op 215 en Suid-Afrika se Stacy Lee Bregman en Alexandra Swayne van die VSA, staan albei op 217 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.