Nóg ʼn SA-gholfspeler positief vir Covid-19

Louis Oosthuizen. (Foto: AP/ Kamran Jebreili)

Die son het Saterdag in die laaste ronde van die Amerikaanse PGA-reeks helder op Louis Oosthuizen en Christiaan Bezuidenhout geskyn. Dreigende onweerswolke het om Branden Grace saamgepak toe hy positief getoets het vir die nuwe koronavirus.

Oosthuizen, wat die afgelope paar weke gesukkel het om die roes van die Covid-19-pandemie af te skud, slaan Sondagaand in die laaste ronde van die Amerikaanse PGA-reeks se WCG se St. Jude-uitnodigingstoernooi in Minnesota af slegs vyf houe agter die voorloper, Brendon Todd van Amerika. Bezuidenhout is net een hou agter Oosthuizen nadat hy ʼn skitterende 64 houe in die derde ronde aangeteken het.

Todd is op 198 12 houe minder as die baansyfer en word gevolg deur Byeong Hun Am van Korea (199).

Dan volg Ricky Fowler van Amerika (200), Bruce Koepka (201) en Justin Thomas (202) met Oosthuizen, Phil Mickelson (VSA) en die Engelsman Matthew Fitzpatrick (al drie op 203) in die gesamentlike sesde plek.

Oosthuizen het 68 houe in die derde ronde op sy telkaart ingevul, wat vier voëltjies ingesluit het, hoewel hy op die sewende en 16de putjies houe aan syfer afgestaan het.

Oosthuizen het rondtes van 68, 67 en 68 gespeel en met slegs ʼn week oor voor die Amerikaanse PGA-toernooi het hy sy peil om die regte tyd herwin.

(Foto: pixabay)

Maar vir Grace, wat in die gesamentlike tweede plek in die Barracuda-toernooi by die Greenwood-buiteklub in Truckee was, het sake droewig verloop toe hy die agtste speler in die reeks geword het wat positief vir Covid-19 getoets het.

Grace het in ʼn verklaring gesê dat hy Vrydagaand moeg in sy hotelkamer gevoel het, maar gedink het dat dit die gevolg van die hoogte bo seevlak was.

Hy het nietemin dadelik die beamptes in kennis gestel en is Saterdagoggend getoets, waarna hy hom aan die toernooi onttrek het en nou tien dae lank in kwarantyn moet deurbring.

Sy joggie het negatief getoets.

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Dylan Frittelli, is vroeër ook positief getoets, maar het heeltemal herstel en speel weer.

* In Birmingham slaan die Engelsman Sam Horsfield (202) af met ʼn voorsprong van een hou in die laaste ronde van die Engelse Ope. Hy word gevolg deur Oliver Farr (Wallis), Rasmus Højgaard van Denemarke en Mikko Korhonen van Finland.

Louis de Jager (209) is in die gesamentlike 24ste posisie.

* Voorste tellings in die St. Jude-uitnodigingstoernoooi: 198-Brendon Todd (VSA) 64 65 69; 199-Byeong Hun Am (Kor) 68 65 66; 200-Rickie Fowler (VSA) 64 67 69; 201-Bruce Koepka (VSA) 62 71 68; 202-Justin Thomas (VSA) 66 70 66; 203-Louis Oosthuizen (SA) 67 68 67,  Matthew Fitzpatrick (Eng) 70 64 69, Phil Mickelson (VSA) 67 70 66.

Ander SA spelers: 204-Christiaan Bezuidenhout 71 69 64; 209-Erik van Rooyen 71 70 68.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.