Onbekende Duitser voor by Fancourt

Alexander Knappe (Foto: Sunshine Tour, Twitter)

Die onbesonge Duitse gholfspeler Alexander Knappe, wat maar 432ste op die wêreldranglys is, het die voortou ná die derde ronde van die Dimension Data Pro-Am geneem wat by Fancourt in George beslis word.

Knappe, wat in 2011 ʼn beroepspeler geword het, kon nog net vyf toernooie wen, maar staan nou op die drumpel van sukses nadat hy die derde ronde in 66 houe voltooi het vir ʼn totaal van 198 (-19) nadat hy tellings van 65 en 67 in die eerste twee rondes op sy telkaart in dié toernooi in die Sonskynreeks ingevul het.

Die Suid-Afrikaner Dean Burmester en die Fransman Daniel Hiller (albei 199, -18) is net een hou agter Knappe, met die Spanjaard Ivan Cantero Gutierrez, die Brit Richard Mansell en Jacques Blaauw  van Suid-Afrika saam vierde op 203.

Die Fransman Adrien Saddier, wat ná die tweede ronde met twee houe voor was, het die kluts heeltemal kwytgeraak en 77 houe in die derde ronde aangeteken om op 206 te eindig.

* In die Verenigde Arabiese Emirate loop die Australiër Ryan Fox (197) voor ná die derde ronde van die Ras al Khamaih Classic, wat deel is van die Europese reeks.

Die Pool Adrian Meronk is tweede op 203 met die Suid-Afrikaners George Coetzee (205), Oliver Bekker (207), Triston Lawrence en Zander Lombard (208) wat ook warm geblaas het.

* In die Phoenix-Ope wat in Scottsdale, Arizona, beslis word, is die Amerikaner Sahith Theegala (13) met twee houe voor sy landgenote Brooks Koepka en Xander Schauffele (albei 132).

Branden Grace en Louis Oosthuizen van Suid-Afrika is op 137 met Garrick Higgo op 139.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.