Oorhaastige gholf-fasiliteite oor die vingers getik

Ter illustrasie. Argieffoto.

GolfRSA het onlangs ’n amptelike teregwysing van die departement van sport, kuns en kultuur ontvang. Dit kom nadat sekere gholflandgoedere en -instansies hul geriewe vir spel oopgestel het.

Die organisasie het vroeër as spreekbuis vir al die gholfbeheerliggame in die land sy ontevredenheid uitgespreek ná die departement se mediakonferensie oor die invloed van vlak 3 op sport.

Vusumusi Mkhize, direkteur-generaal van die departement, het gesê dat gholfbane ook slegs kan heropen vir professionele mense om te oefen en deel te neem soos wat die geval is met ander niekontaksportsoorte. Mkhize het dit duidelik gemaak dat al die regulasies slegs van toepassing is op professionele atlete wat ʼn bestaan maak uit sport en betaal word om daaraan deel te neem. Deelname aan sport vir ontspanningsdoeleindes word dus nog nie toegelaat nie.

In die jongste brief, wat deur Mkhize onderteken is, staan daar dat dit onder die departement se aandag gekom het dat spel weer op sekere gholflandgoedere hervat is; ten spyte van die feit dat daar nog geen duidelike kommunikasie is oor wanneer spel weer amptelik hervat kan word nie.

Mkhize het bygevoeg dat die oortreding van die regulasies tot ’n boete of gevangenisstraf kan lei. Hy het egter gesê dat die departement tevrede was met die samesprekings wat hulle reeds met GolfRSA gevoer het.

Maar dat die gholfbedryf weens die Covid-19-regulasies in die knyp is, is ’n feit. Gholfklubs oor die wêreld heen word deur die lidmaatskapgelde van amateurspelers onderhou. In Suid-Afrika word ongeveer 40 000 mense deur gholfklubs in diens geneem.

GolfRSA se uitvoerende hoof, Grant Hepburn, het in ’n onlangse media-onderhoud ’n donker prentjie geskilder.

Hy het gesê dat tot 50% van die bane in Suid-Afrika hul deure kan sluit indien nie daadwerklik opgetree word nie.

Volgens GolfRSA kan sommige instansies se oorhaastigheid egter die heropening van gholf vir almal – nie net professionele spelers nie – belemmer.

In nóg ’n verklaring – gedateer op 5 Junie – is geskryf dat ’n aankondiging binnekort oor die amptelike heropening van bane gemaak kan word.

“GolfRSA het ook gewaarsku dat die optrede van spelers en klubs wat strydig met die regulasies is, hierdie aankondiging negatief kan beïnvloed.”

In die amptelike skrywe het die departement gesê dat hulle deeglik bewus is van die negatiewe invloed wat Covid-19 op die sport het.

“Ons moet egter onthou dat die veiligheid en beskerming van lewens tans die hoogste prioriteit is,” het die departement afgesluit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marius ·

Nou waarom betaal die golf klubs nie die mense elk R 5 per rondte nie ? Dan is hulle mos professioneel .

david ·

Ek wonder….ek as klient van enige besigheid, supermark, drankwinkel of wat ookal, is GEREGTIG om van die besigheid se dienste gebruik te maak–TEEN BETALING…
Waarom kan ek nie van ‘n Gholfbaan se dienste gebruik maak nie ?
Ek BETAAL immers daarvoor….
Hoe vergelyk die samedromming van mense tussen Supermarkte en ‘n gholfbaan …
Dit is reeds wyd gerapporteer dat hierdie inperking ‘n sterk negatiewe geestes invloed het op die mense.
Kan hierdie regering bekostig om sy inperking regulasies op die geestestoestand van die inwoners van hierdie land te ignoreer ?
Trouens WEET die betrokke minister ooit wat gebeur op ‘n gholfbaan…? Geoordeel aan wie die regulasie hier bepaal, klink dit alteveel na ‘n amptenaar onder die minister se vlak….
Dalk is dit weer ‘n magsbehepte amptenaar –sonder ‘n uniform !
Daar is geen logiese rede vir hierdie weiering nie..!

HBK ·

@david, Ek stem, as die minister wil kom kyk waar ek gewoonlik my bal moet gaan soek, sal hy verstaan dit is “social distancing” op sy beste.

Stephanie ·

Ai, julle – julle weet mos dis veiliger om 3 taxi’s te neem om by die werk te kom as om M-E-T-E-R-S uitmekaar in die opelug oefening te kry. Buitendien WEET die minister julle mik EINTLIK vd 19e putjie ????

mattk ·

Hierdie sogenaamde mense in beheer se intellek laat veel te wense oor. Hulle het sekerlik nie enige aandeel in die golfbane nie en trek dus geen voordeel daaruit nie, daarom die besluit dat dit toe moet bly. Dieselfde vir die reëling dat mense in aftree-oorde nie besoek van hul kinders mag ontvang nie, maar die personeel wat met taxis vanuit hul woonbuurte kom, word toegelaat tot die komplekse om te kom werk. Die kaders is mos in beheer, dus maak en breek hul soos hul wil.

JohanEtz ·

So keelvol dat regering die land soos ‘n kind inperk en straf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.