Oosthuizen lei SA aanslag op Augusta

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook)

Louis Oosthuizen sal van Donderdag af die Suid-Afrikaanse aanslag op die eerste Meestersgholftoernooi van die jaar – die Meesters op Augusta – lei.

Dit is sewe jaar sedert ’n Suid-Afrikaner laas ’n Meesterstoernooi gewen het, toe Ernie Els in 2012 by die Ope Kampioenskap koning gekraai het.

Oosthuizen is die nuutgekroonde SA Ope-kampioen, sowel as die voorste SA speler op Augusta – hy is 19de op die wêreldranglys gekeur.

Die 36-jarige sal hoop om in Charl Schwartzel se voetspore te volg wat in 2011 die Meesters gewen het. Schwartzel het destyds ook die Joburg Ope vooraf gewen en Oosthuizen se Ope-sege kan net goeie dinge inhou.

Om die waarheid te sê, Oosthuizen het twee topvyfplekke in sy laaste twee toernooie losgespeel – by die Valspar‑kampioenskap (tweede) en by die Wêreldgholfkampioenskap (vyfde).

’n Meesters-sege kan die kersie op die koek vir Oosthuizen wees, wat teen Amerika se Bubba Watson in ’n valbylstryd om die groen baadjie in 2012 verloor het.

Dan kan jy maar ook gerus geld op Branden Grace wed. Hy is tans 44ste in die wêreld gekeur en is sedert 2015 ’n sterk Meesters-aanspraakmaker. Die 30-jarige spog met vyf toptienplekke in groot toernooie en was onder andere vierde by die Amerikaanse Ope in 2015.

Schwartzel kan moontlik ook ’n faktor wees, maar sy huidige spelpeil skets ’n ander prentjie. Hy is tans 104de in die wêreld en het slegs vir die Meesters gekwalifiseer omdat hy ’n vorige wenner is.

Die voormalige wêreld nommer ses was laas in September 2008 buite die top 100 internasionale spelers gekeur, maar dié spogprestasie het Aprilmaand tot ’n einde gekom.

Daarteenoor het Justin Harding sy eerste uitnodiging na die Meesters gekry toe sy naam vir die eerste keer onder die lys van top 50-spelers verskyn het.

Die 33-jarige Harding het tweede by die Kenia Ope op die Europese Toer in Maart klaargemaak. Dit was net nóg ’n prestasie vir Harding ná hy die Katar Meesters die week vantevore gewen het.

Hy het in minder as twee jaar meer as 600 ranglysplekke gespring om onder die wêreld se elite spelers te tel.

Nóg ’n voormalige Meesters-kampioen, Trevor Immelman, sal ook op Augusta afslaan. Immelman is tans 461ste op die wêreldranglys en is deesdae ’n baie suksesvolle kommentator op die PGA‑toer.

Saam met Harding sal die 21-jarige Jovan Rebula ook sy Meesters‑debuut maak. Hy is familie van Ernie Els en het sy uitnodiging te danke aan sy wen by die 2018 Britse Amateurtoernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.