Oosthuizen swaai septer by Britse Ope

Louis Oosthuizen in aksie op die Royal St George’s Foto: Paul Ellis/AFP.

Nadat hy tweede by die Amerikaanse Ope én die Amerikaanse PGA-kampioenskap geëindig het, is Suid-Afrika se Louis Oosthuizen oorgehaal om met die louere by die Britse Ope weg te stap.

Die 38-jarige Kapenaar het ’n amper foutlose ronde van 64 (ses houe onder die baansyfer) gespeel om die voortou te neem. Twee Amerikaners, Jordan Spieth en Brian Harman, is egter net een hou agter hom.

“Dit was so te sê die perfekte ronde,” het Oosthuizen ná die dag se spel gesê.

“Ek het net geen foute gemaak nie en ook nie my kanse verspeel om voëltjies te behaal nie. Dit was net ’n baie goeie eerste ronde.”

Oosthuizen sal egter op sy hoede vir Spieth moet wees. Die Texas-boorling speel weer goeie gholf en hy is lus om weer ’n groot toernooi te wen.

“Gholf is ’n sielkundige spel; wanneer dinge nie goed op die baan gaan nie, kan jy maklik selfvertroue verloor. Dit is die eerste keer dat ek my selfvertroue moes opbou en dit neem beslis ’n rukkie,” het die Amerikaner gesê.

Ander Suid-Afrikaners soos Dylan Frittelli, Justin Harding, Jaco Ahlers, Christiaan Bezuidenhout, Daniel van Tonder en Erik van Rooyen het ook die ronde in minder as 70 houe voltooi.

  • Telbord ná die eerste dag se spel:

64 – Louis Oosthuizen

65 – Brian Harman, Jordan Spieth

66 – Stewart Cink, Benjamin Hebert, Mackenzie Hughes, Webb Simpson, Dylan Frittelli

67 – An Byeong-Hun, Tommy Fleetwood, Justin Harding, Collin Morikawa, Justin Rose, Scottie Scheffler, Andy Sullivan, Danny Willett, Jack Senior, Marcel Siem

68 – Jaco Ahlers, Christiaan Bezuidenhout, Paul Casey, Corey Conners, Ryan Fox, Sergio Garcia, Viktor Hovland, Dustin Johnson, Chris Kirk, Keith Mitchell, Francesco Molinari, Brandt Snedeker, Daniel van Tonder

69 – Abraham Ancer, Marcus Armitage, Joel Dahmen, Rickie Fowler, Talor Gooch, Lanto Griffin, Marcus Kinhult, Brooks Koepka, Lin Yuxin, Guido Migliozzi, Joaquin Niemann, Xander Schauffele, Cameron Smith, Cameron Tringale, Erik van Rooyen, Will Zalatoris

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.