Paula Reto in SA vir Sun City-gholf

Suid-Afrika se naasbeste vrouegholfspeler, Paula Reto, is in die land vir die SuperSport-uitdaagtoernooi by Sun City. (Argieffoto: Julio Aguilar/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se naasbeste vrouegholfspeler, Paula Reto, is in die land vir die SuperSport-uitdaagtoernooi by Sun City.

Die 33-jarige Reto het Maandag vanaf Saoedi-Arabië na Suid-Afrika gereis vir die plaaslike Sonskynreeks se tweede toernooi van die 2024-seisoen. Reto het verlede week in Riaad in die Aramco Saudi-Ope gespeel waar sy 18de geëindig het in die Europese reeks se mees betalende toernooi van die jaar.

Die SA gholfster en LPGA-toernooiwenner het in 2022 ook in die SuperSport-toernooi gespeel en met tien houe as oorwinnaar van die baan gestap nadat sy alle teenstand vermorsel het met kookwaterspel op die Sonstad se moeilike Gary Player-baan.

Vanjaar se toernooi, wat Woensdag begin en Vrydag eindig, word egter op die ewe uitdagende Lost City-uitleg beslis. Dit gaan Reto en die res van die deelnemers se talente ook behoorlik toets.

Reto is een van 31 Suid-Afrikaanse spelers in die veld, terwyl 50 van die altesame 81 deelnemers internasionale spelers is wat meer as 15 verskillende lande verteenwoordig.

Die SuperSport-toernooi se algehele pryspot beloop R1,3 miljoen en afgesien van Ashleigh Buhai, Casandra Alexander, Nicole Garcia en Cara Gorlei, is al die land se voorste geldspelers by die Pilanesberg-dobbelstad in aksie.

Buhai, die land se topvrouespeler, Alexander, Garcia en Gorlei is al vier vandeesweek in Dar es Salaam vir die Europese reeks se Lalla Menyem-toernooi.

Reto se sterkste teenstanders die volgende paar dae sal straks haar landgenoot Lee-Anne Pace en die Skot Kylie Henry wees. Pace is die koningin van plaaslike vrouegholf en het Sondag tweede in die seisoen se eerste toernooi op Fancourt geëindig.

Sy is uitgestof slegs deur Henry, wat soos sy ʼn veteraan is wat al Europese sukses gesmaak het en Sondag met haar sege in die Dimension Data-pro-am die eerste keer in meer as ʼn dekade weer op die wenpodium klaargemaak het.

Die jong Ana Dawson van die Isle of Man het vir twee dae op Fancourt pronkspel opgedis voordat sy op die laaste dag gestruikel het.

Sy kan dalk net hierdie keer op Sun City enduit in die wedloop wees aangesien sy beter vertroud sal wees met die druk van mededingende gholf.

Gerekende plaaslike spelers soos Nadia van der Westhuizen, Stacey Bregman, Kaleigh Telfer en Kiera Floyd, asook Romy Meekers van Nederland, Louise Duncan van Skotland en Noorweë se Michelle Forsland kan almal stewige aanspraakmakers op die SuperSport-titel wees indien hulle vandeesweek op hul heel beste is.

Reto sal egter oorgehaal wees om ʼn tweede keer in drie jaar as kampioen gekroon te word.

Sy het verlede jaar erg gesukkel nadat sy vroeg in die jaar onder die top 50 op die wêreldranglys ingeskuif het ná ʼn voortreflike 2022-seisoen waarin sy twee titels verower het en meer as R15 miljoen aan prysgeld ingeoes het.

Dit blyk egter dat Reto weer op koers is om haar beste spelpeil te bereik. In Riaad verlede week en in Florida verlede maand in die Toernooi van Kampioene was daar flikkeringe van die puik spel wat sy die vorige seisoen opgedis het.

Die Sonstad se goeie herinneringe is dalk net wat Reto nodig het om weer haar selfvertroue terug te kry en haar weer tot groter hoogtes aan te vuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.