PGA gholf: Rahm se setwerk laat die geldlaai klingel

Jon Rahm. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Jare gelede toe Gary Player op die kruin van sy loopbaan was, het hy gesê dat gholfspelers die bal ver slaan om toeskouers te beïndruk, maar dat setwerk die geld laat inrol.

Om die Engelse uitdrukking te gebruik: “Drive for show, but putt for dough.”

Vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) het Player se stukkie waarheid weer gestalte gekry toe die Spanjaard Jon Rahm die BMW-kampioenskap op Olympia Fields II in Illinois in Amerika gewen het toe hy die Amerikaner Dustin Johnson in ʼn uitspeelstryd op die eerste putjie geklop het.

Rahm, wat die laaste ronde in 64 houe voltooi het, en Johnson, wat die voorloper ná die derde ronde saam met Hideki Matsuyama van Japan was, het albei op 276 houe geëindig, wat vier houe minder as baansyfer was.

Rahm, wat ʼn paar weke gelede die wêreld se beste speler was, maar net na ʼn week of twee deur Justin Thomas onttroon is, was uiters bestendig oor die laaste twee rondes en die enigste blaps op sy telkaart was toe hy ʼn strafhou ontvang het nadat hy nie sy bal op ʼn setperk in die derde ronde gemerk het nie.

Dustin Johnson. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Johnson, die huidige voorste speler op die gholfranglys, het op die 18de putjie met ʼn lang sethou van byna 15 meter (43 voet) seker gemaak dat hy ʼn uitspeelwedstryd afdwing.

Rahm het op die eerste uitspeelputjie ʼn monsteragtige sethou van 22 meter (66 voet) ingerol om ʼn voëltjie te behaal terwyl Johnson tevrede met syfer moes wees nadat hy nie sy sethou van 11 meter (33 voet) kon slaag nie.

Die Chileen Joaquim Niemann en Matsuyama was saam derde op 278 gevolg deur die Amerikaner Tony Finau (279) in die vierde plek.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het die laaste ronde in 71 houe voltooi en het op 286 houe (ses meer as baansyfer) in die gesamentlike 25ste plek geëindig.

Sy mede-Suid-Afrikaner Dylan Frittelli was op 287 in die gesamentlike 33de posisie.

Oosthuizen het darem sy bankrekening met ʼn verdere R1,1 miljoen laat bult en Frittelli het sowat R813 000 verdien.

Rahm het sowat R28 miljoen vir sy eerste plek ontvang.

* Nie Oosthuizen of Fritelli kon tussen die voorste 30 spelers op die Fed-Ex-puntelys eindig om in die geldryke Toerkampioenskap te speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae