PGA-kampioenskap: Frittelli se ronde soos vrugteslaai

Dustin Johnson. (Foto: AP Photo/Charlie Riedel)

Die eerste twee rondes van die PGA-gholfkampioenskap wat op die munisipale Hardingpark-baan in San Francisco gespeel word, was ʼn tydige wekroep vir die Amerikaners.

Waar die onbesonge Chinees Li Haotong die voortou ná die halfpadmerk geneem het en ʼn rits Engelse spelers ook teen die telbord opgekruip het, het die Amerikaners genoeg daarvan gehad in Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) se derde ronde.

Dustin Johnson, wie se naam ʼn paar jaar gelede op almal se lippe was, is die nuwe voorloper op 201 (nege houe minder as die baansyfer) nadat hy die derde ronde in 65 houe voltooi het.

Hy is een hou voor sy Amerikaanse landgenote Scottie Scheffler en Cameron Champ (albei op 202) met Colin Morikawa, Brooks Koepka en die Engelsman Paul Casey saam sesde op 203.

Li het 73 houe aangeteken en het teruggesak na die gesamentlike 13de posisie.

Dylan Frittelli. (Foto: AP Photo/Lee Jin-man)

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt bly Dylan Frittelli die vaandeldraer nadat hy 70 houe op sy telkaart ingevul het. Hy is gesamentlik 21ste, maar dit is net ses houe agter Johnson. Frittelli het 70 en 67 in die eerste twee rondes aangeteken. Frittelli se derde ronde was ʼn mengelmoes, soos vrugteslaai.

Hy het drie voëltjies op die 10de, 13de en 16de asook ʼn arend op die vierde putjie behaal, maar dit bederf nadat hy houe aan baansyfer op die 3de, 5de, 12de, 14de en 15de putjies afgestaan het.

Charl Schwartzel is op 208 net ʼn verdere hou terug, met Louis Oosthuizen op 211 in die gesamentlike 52ste posisie en tien houe agter Johnson.

Brooks Koepka. (Foto: AP Photo/Jeff Chiu)

Om ʼn wenner te kies, is deesdae vir moeilikheid soek in gholf, maar Koepka is my gunsteling om slegs die tweede speler te word wat die legendariese Walter Hagan (1924-’27) kan nadoen wat drie PGA-toernooie in ʼn ry kon wen.

Die bestendige Koepka was in sy laaste vyf Majors onder die top-vier. Johnson bly die grootste gevaarperd en hy sal poog om sy tweede Major te wen.

Maar met net drie houe wat die eerste 11 spelers op die voorloperbord skei, en met geen toeskouers in sig nie (wat die spelers haat), kan enigeen van die top-20 vroeg Maandagoggend (SA tyd) as kampioen gekroon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.