Vier Suid-Afrikaners, Dylan Frittelli, Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Erik van Rooyen, het die valbyl vrygespring en slaan Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) af in die derde ronde van die Amerikaanse PGA-gholfkampioenskap wat in San Francisco gespeel word.
Maar Christiaan Bezuidenhout en Shaun Norris was nie so gelukkig nie en sal die laaste twee rondes voor hul televisiestelle moet deurbring, aangesien geen toeskouers op die munisipale Harding Park-baan toegelaat word nie.
Die jong Chinees Li Haotong slaan as voorloper af op 132, agt houe onder die baansyfer nadat hy die eerste Chinees geword het wat ná twee rondes in ʼn Major-toernooi voorloop.
Drie jaar nadat hy 63 houe in die laaste ronde van die Britse Ope aangeteken het, het Li 65 houe in die tweede ronde aangeteken om met twee houe voor die Amerikaners Daniel Berger en Brooks Koepka, die twee Engelsmanne Tommy Fleetwood en Justin Rose, die Australiër Jason Day en die Fransman Michael Lorenza-Vera voor te loop, wat almal op 134 houe geëindig het.
Frittelli is ná rondes van 67 en 70 in die gesamentlike 15de posisie op 137, met Oosthuizen, Schwartzel en Van Rooyen almal op 141.
Die 25-jarige Li het Vrydag nie een keer ʼn hou aan baansyfer afgestaan nie, hoewel hy net vier keer die skoonveld gehaal het ná sy bofhoue. Hoewel hy slegs 114de in die wêreld is nadat hy vier keer in agt toernooie vanjaar nie die afsnypunt kon haal nie, was Vrydag se ronde byna foutloos.
Volgens die Golf Channell het Li verlede jaar in Melbourne sy afrigter as sy joggie gebruik in die Presidentebeker-toernooi, toe Ernie Els die internasionale span se kaptein was. Tydens die oefenronde het Li se joggie verdwaal en is hy met sy gholfsak terug klubhuis toe. Li het voortgespeel en die stokke van een van sy spelmaats geleen.
Ná Vrydag se ronde het Li dadelik afgesit oefenbof toe, nog ʼn paar honderd balle gaan slaan en lank op die oefensetperk deurgebring.
Van die ander groot name is Rory McIlroy en Jon Rahm albei op 139, Tiger Woods (140) het met ʼn voëltjie op die 16de putjie verseker dat hy Saterdag en Sondag voortspeel en Justin Thomas, die wêreld se nommer een, is op 141.