PGA-kampioenskap: Morikawa trap in Woods, Nicklaus se spore

Collin Morikawa. (Foto: PGA Tour)

In enige sportsoort moet jy jou nie blind staar teen ʼn sportman of -vrou se peil nie.

In gholf het ons só gewoond en verstrengel geraak in die groot name soos dié van Tiger Woods, Brooks Koepka, Dustin Johnston, Justin Thomas, Jordan Spieth en Rory McIlroy, dat ʼn mens geneig geraak het om verby die sogenaamde kleintjies te kyk.

Kyk maar net wat het laat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in die vierde en laaste ronde van die Amerikaanse PGA-kampioenskap in San Francisco gebeur het toe die 23-jarige onbesonge Collin Morikawa (267) die toernooi met twee houe gewen het.

Morikawa het die laaste ronde in 64 houe, die laagste van die toernooi, voltooi om twee houe voor die Engelsman Paul Casey en die Amerikaner Dustin Johnson (albei 269) te eindig, gevolg deur Jason Day van Australië en vier Amerikaners, Matthew Wolff, Bryson DeChambeau, Tony Finau en Scottie Scheffler (almal op 270).

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en Dylan Frittelli het saam 33ste geëindig op 278 (en albei sowat R1,2 miljoen verdien), gevolg deur Erik van Rooyen (281) en Charl Schwartzel (282).

Ná die derde ronde was Johnson en Koepka die groot gunstelinge, maar wat dan van Morikawa, wat slegs 20 km van die Hardingpark-baan aan die Universiteit van Berkeley vir ʼn graad in bestuursadministrasie studeer het?

Wat daarvan toe hy in Junie, toe gholftoernooie hervat is, tydens die Colonial-toernooi in ’n uitspeelwedstryd teen Daniel Berger verloor het? Wat daarvan toe hy dit met ʼn oorwinning in die Werkersdag-liefdadigheidstoernooi opgevolg het toe hy Justin Thomas op die eerste uitspeelputjie geklop het?

Agge nee wat, wag maar vir ʼn Major!

Morikawa, wat in Los Angeles gebore is, het die toernooi beklink toe hy op die 14de putjie weggebreek het van die voorlopersbord-bondel wat ses ander name in die eerste posisie ingesluit het. Hy het dit toe met ʼn arend op die 16de beklink.

Morikawa, wat die deksel van die groot Wanamaker-trofee laat val het (die trofee weeg byna 13 kg) toe hy dit effe verleë opgelig het, sluit hom nou by Woods en die legende Jack Nicklaus aan wat ook hul eerste PGA-kampioenskap op 23-jarige ouderdom gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.