PGA: Oosthuizen skuif nader in die derde ronde

Louis Oosthuizen in aksie in die PGA (Foto Louis Oosthuizen Facebook)

Na Vrydag se reën in die tweede ronde van die PGA op die Quail Hollow-baan in Noord-Carolina, is die tweede ronde eers Saterdag voltooi en het die derde ronde sonder enige noemenswaardige prestasies verloop.

Die voorlopers se posisies, met die uitsondering van Jason Day,  is nie veel beïnvloed nie.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, wat na sy goeie 67 in die tweede ronde en syfer 71 Saterdag nou gesamentlik vierde is, is egter nou beter daaraan toe as toe hy Saterdagoggend afgeslaan het.

Hy is nou net twee houe agter die voorloper Kevin Kisner nadat dié Saterdag met twee oor op die 16de putjie en ʼn verdere brouhou op die 18de onrustig sou gaan slaap het.

Kisner se 72 plaas hom nou na drie rondes op 207 en ses houe beter as baansyfer. Saam met Chris Stroud is die Japanner Hideki Matsuyama  ʼn hou verder terug en een voor Oosthuizen.

♦  Oosthuizen was Saterdag effens wisselvallig. Hy het by drie putjies, die sesde, 12de en 16de, houe ingeboet maar in twee gevalle sommer met die volgende putjie sake herstel en uiteindelik drie voëltjies vir syfer 71 aangeteken.

Oosthuizen is die enigste van die voorste spelers wat al ʼn Major gewen het.

Dít kan in die laaste ronde in sy guns tel wanneer die druk op Kisner, Stroud en Matsuyama begin toeneem.

Kisner het nog nooit beter as gelyk 12de in ʼn Major geëindig nie; Stroud het nog net twee uit vier keer die afsnypunt in ʼn Major oorleef; en Matsuyama, wisselvallig in al drie sy rondes, het ook nog nie sukses in ʼn Major geproe nie.

Hy kan egter nie onderskat word nadat hy gesamentlik tweede in vanjaar se Amerikaanse Ope was nie. Justin Thomas, wat Saterdag twee onder syfer gespeel het, was negende in dié toernooi en is saam met Oosthuizen twee houe agter die voorlopers.

♦  Benewens Oosthuizen, wat darem aansienlik beter speel as in die onlangse Britse Ope, het dit maar vrotterig met Suid-Afrika se sewetal gegaan.

Richard Sterne was wisselvallig maar het nogtans Saterdag een hou beter as syfer 71 gespeel en was na drie rondes gelyk 26ste op twee oor 215; Charles Schwartzel was drie oor 216 na sy 72; en Dylan Frittelli se 77 in die derde ronde het hom na agt oor 221 laat terugsak; en drie van hulle kon nie die valbyl vryspring nie.

Ernie Els het sy 80 in die eerste ronde met ʼn een onder 70 opgevolg en moes sy tasse na die eerste twee rondes pak; Branden Steele het soos Els agt oor na twee rondes gehad (76, 74); en Brandon Stone het twee baie swak rondes na mekaar gespeel en sy 79 met 80 opgevolg en met sy 17 oor sesde laaste geëindig.

♦  Dit was ʼn toernooi waar die groot name gesukkel het. Brooks Koepka (twee oor),  Jordan Spieth (drie oor),  Rory McIlroy (vier oor) … Jason Day (syfer 213) wat voor die derde ronde op ses onder was, het dit toe met 77 houe bederf.

Hy is nou gelyk aan syfer en feitlik verseker uit die prentjie tensy iets buitengewoon dramaties gebeur en al die voorlopers buitengewoon swak vaar.

Om die volledige tellings te kry, klik op die skakel http://www.pgatour.com/leaderboard.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.