PGA-reeks en aartsvyand LIV smelt saam

Die LIV-gholftoernooi. (Foto: Christian Petersen_/Getty Images North America/AFP)

Die kop van die gholfbaas van die Amerikaanse PGA-reeks word geëis te midde van die aankondiging dat daar eensklaps vrede tussen dié reeks en die omstrede LIV-reeks is.

En terwyl die LIV-rebelle jubelend gereageer het op die blye nuus dat die twee gholfreekse vorentoe vennote op die wêreld se gholfbane sal wees, het die spelers van die Amerikaanse PGA-reeks gewaarsku dat nog bitter baie water in die see sal moet loop voordat daar enige samewerking sal wees.

In ʼn skokaankondiging Dinsdagoggend op die TV-netwerk CNBC deur die PGA-reeks se uitvoerende hoof, Jay Monahan, en die hoof van Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds, Yasir Al-Rumayyan, is die strydbyle tussen die twee vegtende reekse begrawe met die bekendmaking van ʼn samewerkingsooreenkoms vanaf aanstaande jaar.

Luidens die ooreenkoms tussen Monahan en Al-Rumayyan sal ʼn nuwe gholfliggaam die lig sien en sal die Europese DP World-reeks ook daarby betrek word.

Die PGA-reeks sal die senior vennoot wees, met Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds die senior kommersiële aandeelhouer.

Die strydende partye sal ook dadelik alle regstappe teen mekaar staak, met Al-Rumayyan wat voorts ingestem het dat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds geld beskikbaar sal stel om alles te finansier en die toekoms van gholf en die uitbreiding van die spel wêreldwyd te finansier.

Die fynere besonderhede oor hoe alles vorentoe sal werk en geadministreer sal word, moet nog uitgewerk word.

En dit is waar die kinkel in die kabel lê.

Enige ooreenkoms wat die PGA-reeks betref is slegs geldig indien dit deur die spelerskomitee goedgekeur word.

Dinsdagaand was die krake in die onderlinge verhouding tussen die spelers en Monahan duidelik te bespeur met ʼn versoek aan Monahan dat hy moet bedank – ʼn versoek wat luidkeels en staande deur sowat ʼn honderd spelers toegejuig is.

Monahan is as skynheilig gebrandmerk nadat hy twee jaar lank die LIV-reeks as die duiwel uitgemaak het, maar in die geheim ʼn vrede- en samewerkingsooreenkoms met die omstrede reeks beklink het.

Monahan en Al-Rumayyan het die laaste sewe weke agter geslote deure onderhandel om vrede te bewerkstellig.

LIV se uitvoerende hoof, Greg Norman, was geensins by enige onderhandelinge betrokke nie. Hy is Dinsdag slegs vyf minute voor die televisie-aankondiging deur Al-Rumayyan ingelig oor die verwikkelinge.

Dit is duidelik dat daar in die toekoms nie plek vir Norman in die nuwe gholfliggaam gaan wees nie.

Die spel se twee groot sterre wat die PGA-reeks se kant gekies het in hul stryd teen die LIV-reeks, Tiger Woods en Rory McIlroy, het glo ook nie van die onderhandelinge geweet nie.

Nie een van hulle het tot dusver enige kommentaar oor die saak gelewer nie, maar diegene wat weet wat aangaan sê die twee supersterre voel verraai.

Woods en McIlroy het onderskeidelik aanbiedinge van sowat R15 miljard en R8 miljard van die hand gewys om die rug op die PGA-reeks te draai en hulle by die LIV-reeks aan te sluit.

Op Dinsdagaand se PGA-spelersvergadering in Toronto, aan die vooraand van die Kanadese Ope wat Donderdag begin, is dit glo duidelik gemaak dat enige LIV-speler wat weer ʼn lid van die PGA-reeks wil word, ʼn sogenaamde prys daarvoor sal moet betaal.

Spelers soos Phil Mickelson, Dustin Johnson, Brooks Koepka en Bryson DeChambeau is honderde duisende dollar betaal om hulle by die LIV-reeks aan te sluit. Die PGA-spelers sê glo die LIV-spelers sal groot persentasies van hul LIV-geld moet opdok as straf dat hulle weggebreek het.

Die Europese reeks het onlangs sy lede wat na die LIV-reeks oorgeloop het, reuseboetes opgelê na gelang van hoeveel LIV-toernooie hulle gespeel het. Spelers is ook geskors. Europese strydrosse soos Lee Westwood, Ian Poulter, Sergio Garcia, Henrik Stenson en Martin Kaymer het almal daarna hul lidmaatskap van die DP World-reeks opgegee.

Wat die onmiddellike toekoms van die spel betref, sal geen veranderinge vanjaar gesien word nie met die PGA-, LIV- en Europese reeks wat individueel en soos gewoonlik sal voortgaan.

Aanstaande jaar sal straks heelwat anders lyk, met plek wat op ʼn wêreldrooster vir LIV se spankompetisie gevind sal moet word.

Ingeligte bronne sê die LIV-konsep kan baie moontlik mettertyd heeltemal verdwyn, met Saoedi-Arabië wat gekry het wat hy wou hê –  ʼn plekkie in die son op wêreldgholf se grootste verhoog.

  • Bykomende bronne: Sports Illustrated, Golf Digest, The Yardbarker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Liv het nuwe lewe in golf ingeblaas. Nou sit Rory en kie met rooi gesigte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.