PGA: wipplankryery in die pylvak

Louis Oosthuizen. Argieffoto: AP Photo/Jae C. Hong

Die laaste ronde van die PGA Sondag was ʼn wipplankryery soos in ʼn swakkerige klubtoernooi toe die voorste spelers hul houe laat val, arende en voëtljies ingeryg en veral wenkanse laat glip het.

Die toernooi op die Quail Hollow-baan in Charlotte, Noord-Carolina, is deur Justin Thomas gewen wat Sondag sy derde opeenvolgende telling van beter syfer aangeteken het.

Hy het twee houe voor Louis Oosthuizen geëindig, wat saam met Francesco Molinri en Patrick Reed tweede was. Thomas se vier ronde-tellings was 73, 66, 69 en 68 vir ʼn toernooitelling van 276.

Oor die laast paar putjies was daar sewe spelers wat almal op sewe houe onder syfer was, en agt spelers het binne vier houe van mekaar gëeindig.

♦  Oosthuizen het Sondag syfer 35 oor die eerste nege gespeel. Dit het twee voëltjies en twee brouhoue ingesluit, en hy het na vier onder teruggesak toe hy by die 11de ʼn hou laat val het. Met die aanbreek van die 15de was hy drie agter die voorlopers en klaarblyklik uit die wedloop.

Maar na sy arend op dié putjie was hy weer ʼn sterk aanspraakmaker. Die afstaan van ʼn hou by die 16de het sy kanse egter finaal geknou en selfs ʼn syfer by die 18de kon hom nie red nie, al het Thomas daar ʼn hou afgestaan.

♦  Patrick Reed het van nêrens af tussen die voorstes ingesluip – en dit verdien met drie rondes wat beter as syfer was met net ʼn twee oor 73 in die tweede ronde wat hom teruggehou het.

♦  Hideki Matsuyama, wat deurgaans tussen die voorste drie geboer het, het onder die druk gevou en oor die laaste twee rondes drie houe afgestaan en hou by putjies ingeboet waar waar dit noodsaaklik was om vas te byt om kontak te kan behou.

Hy was op die keper beskou deurgaans te wisselvallig.

♦  En Kevin Kisner, wat so lekker afgesit het en sekerlik met groot verwagtinge op laaste dag sou afgeslaan het? Hy het Sondag 74 houe gespeel en daarmee van eerste na gesamentlike sewende plek getuimel. Senuwees, wat hom in die derde ronde begin vasvat het toe hy vier brouhoue oor die laaste nege gespeel het, het in die laaste ronde klaarblyklik oorgeneem.

Daar was vier brouhoue en ook ʼn dubbele in sy ronde en hy is hier teen die einde deur die opvolgers van onder af uit die voorste posisies gedruk.

♦  Van die Suid-Afrikaners het Richard Sterne tweede beste gevaar met sy ronde van syfer-71 en 286, twee oor vir die toernooi; Charl Schwartzel het een oor in die vierde ronde vir ʼn totaal  van 289 gespeel en Dylan Frittelli het 72 (293) aangeteken.

Klik op die skakel om die volledige tellings van die PGA te kry: http://www.pgatour.com/competition/2017/pga-championship/leaderboard.html

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.