Player besing Higgo se lof

Garrick Higgo. Foto: Mike Ehrmann/Getty Images/AFP.

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player staan vas agter Garrick Higgo nadat hy gister sy eerste oorwinning van die PGA-reeks behaal het toe hy die Palmetto-toernooi in Suid-Carolina gewen het.

Sodoende het die talentvolle 22-jarige speler die jongste Suid-Afrikaner – sedert Player se heldedade van 1958 – geword om met die louere by ’n PGA-toernooi weg te stap.

Higgo, wat eers ’n agterstand van ses houe moes uitwis voordat hy die silwerware omhoog kon hou, het later vertel dat Player hom vóór die finale dag se spel gebel het.

“Gary het my gebel en gesê hy moes ook al ’n hele paar keer in sy loopbaan met ’n terugvegpoging vorendag kom om ’n toernooi te wen. Hy het my goeie raad gegee en aangemoedig om op my eie spel te konsentreer en nie te veel aandag aan die res te skenk nie,” het Higgo gesê.

Volgens die jongste ranglys is die Suid-Afrikaner die 39ste beste speler ter wêreld en hy spog reeds met ses oorwinnings in sy kort loopbaan – prestasies wat nie ongesiens by Player verbygaan nie.

“Om te sien hoe Garrick sy eerste PGA-toernooi ná slegs sy tweede probeerslag wen, is ongetwyfeld een van die lekkerste dinge wat ek al in my loopbaan aanskou het,” het die 85-jarige gholflegende op sosiale media geskryf.

“Hy is een van die nederigste jong mense wat ’n mens kan ontmoet. Ek is vol vertroue dat hy vir groot dinge bestem is en ek is opgewonde oor wat die toekoms vir hom inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.