Player: ‘Die ondenkbare het gebeur’

Gary en Vivienne Player op die Augusta-gholfbaan. Foto: David Cannon/Getty Images/AFP.

Die rots waarop Gary Player se suksesvolle gholfloopbaan gebou is, Vivienne Player, het gister aan kanker gesterf. Die egpaar het in Januarie hul 64ste huweliksherdenking gevier.

Die 85-jarige Player, waarskynlik Suid-Afrika se beste internasionale sportman ooit, het sy vrou se dood as “ondenkbaar” beskryf.

“Vivienne het vir my die waarde van liefde, geloof en vertroue geleer en ek kan nie eens begin om die hartseer te beskryf nie. Ek het iemand verloor wat die wêreld vir my beteken,” het Player gesê.

Die legendariese gholfspeler het al van jongs af sy oog op Vivienne gehad en hy het haar die eerste keer gevra om te trou toe hy net 15 jaar oud was.

“Dit was liefde met die eerste oogopslag en dit het in ’n ongelooflike liefdesverhaal ontwikkel. Ek glo dat die storie sal voortgaan wanneer ons uiteindelik weer bymekaar is. Tot dan sal ek na jou met my hele hart verlang.”

Vivienne het die egpaar se ses kinders amper eiehandig grootgemaak terwyl Player wêreldwyd aan gholftoernooie deelneem en hy het haar as ’n vrou soos geen ander beskryf.

Intussen stroom die huldeblyke in. Die Amerikaanse gholfspeler Phil Mickelson het gesê dat dit ’n voorreg was om Vivienne te ken, terwyl die mediapersoonlikheid Piers Morgan hul huwelik as “een van die bestes” bestempel het.

Player vier in November sy 86ste verjaardag en hy het nege Major-toernooie in sy loopbaan gewen. Hy is vroeër vanjaar deur oudpres. Donald Trump van die VSA met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

“Ek is baie bevoorreg om ’n wêreldambassadeur vir gholf te wees, maar dit is my liefde vir my naaste wat my geïnspireer het om aan te hou reis en my bes te doen om mense te verenig en geld in te samel vir diegene wat dit broodnodig het,” het Player in ’n destydse onderhoud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Wat ‘n besonderse egpaar.Ek kan nie onthou of hulle ooit op tydskrifte se voorblaaie soos vele ander van ons sportsterre was nie. Nederig en beskeie. Gary is die flambojante een. Sterkte aan die Player gesin. 64 jaar is ‘n leeftyd.

Net ek ·

Aai dis so sleg en hartseer. Alle sterkte aan die hele familie. Ek het my wederhelfde na 23 jaar se getroude lewe verloor weens covid en dit bly seer en glad nie lekker nie, kan nie eers dink hoe dit moet voel na ‘n lewe saam van 64jaar nie. Baie sterkte!!!!

Boerkind ·

Sterkte vir jou ook…. Here, bring genesing vir hierdie hartseer…

Boerkind ·

Gary is een van die opregte nederige mense wat nie geswig het voor rykdom en eer nie… ‘n voorbeeld vir ieder en elk. Innige simpatie en sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.