Player onderstreep sy klas met Tiger-boodskap

Tiger Woods en Gary Player. Foto: Timothy A. Clary/AFP.

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player het op sosiale media vir Tiger Woods beterskap toegewens en sommer terselfdertyd die Amerikaanse speler se lof besing.

Die 45-jarige Woods was Februarie in ’n motorongeluk in Los Angeles toe sy sportnutsvoertuig die middelman getref het, in die aankomende baan beland het en teen ’n boom gebots het. Sy voertuig het verskeie kere getol.

Die 15-malige major-kampioen het operasies ondergaan om beduidende ortopediese beserings aan sy laerregterbeen en -enkel te herstel. ʼn Pen is onder meer in Woods se skeenbeen ingevoeg en ʼn kombinasie van skroewe en penne gebruik om sy voet en enkel te stabiliseer.

Hoewel hy nou by die huis aansterk, wag daar nog ’n lang pad op hom voordat hy weer op die afslaanbof in aksie sal wees.

Woods is een van die gewildste gholfspelers ter wêreld; ’n feit waarvan Player maar net te bewus is.

“Dit was ongelooflik om die ondersteuning te sien wat Tiger ná sy ongeluk gekry het,” het Player gesê.

Volgens Player is die lewe deesdae so gejaagd dat ’n mens soms vergeet dat Woods steeds ’n opdraande stryd voer.

Tiger Woods nadat hy die Amerikaanse Meesters gewen het. (Foto: Curtis Compton/Atlanta Journal-Constitution via AP)

“Elke keer wanneer ek gholf speel of mense ontmoet, duik Tiger se naam altyd in ons gesprekke op. Dit is verblydend om te sien hoe lief mense vir hom is en hoe graag hulle hom weer op die gholfbaan wil sien.”

“Ek wens hom dus alle voorspoed toe; hy is immers die man wat gholf na ’n hoër vlak geneem het.”

Die 85-jarige Player is vroeër vanjaar deur oudpres. Donald Trump met ʼn presidentsmedalje van vryheid vereer. Dit is die VSA se hoogste burgerlike eerbewys.

Die oorhandigingsgeleentheid word egter deur sommiges as omstrede bestempel omdat dit plaasgevind het net ’n dag nadat betogers, glo hoofsaaklik Trump-ondersteuners, die kongresgebou (Capitol) in Washington DC bestorm het.

Teen dié agtergrond is Player gekritiseer omdat hy die toekenning aanvaar het.

Sy seun Marc het onder meer ook destyds gesê dat sy pa pleinweg moes weier om die eerbetoon in ontvangs te neem.

Maar politieke sienings en oortuigings opsy; Player se prestasies op die gholfbaan spreek boekdele.

Gary Player. Foto: Christian Petersen/Getty Images/AFP

In sy loopbaan wat oor sewe dekades strek het Player onder meer die Bob Jones-toekenning in 1966 ontvang; die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler geword het om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl oudpres. Thabo Mbeki hom ook met die Orde van Ikhamanga (in goud) vereer het.

Trump het in 2019 die presidentsmedalje van vryheid aan Woods toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Player (is) gekritiseer omdat hy die toekenning aanvaar het. en
Sy seun Marc het onder meer ook destyds gesê dat sy pa pleinweg moes weier om die eerbetoon in ontvangs te neem.

Dis darem regtig jammer hoedat mense, selfs die van wie jy dit die minste sou verwag, politiek by enige ding onder die son by die hare wil insleep.

Wel gedaan Gary Player, jy was ‘n voorbeeld en inspirasie vir baie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.