Player onthou sy Meestersdae

Gary Player. Foto: ANA.

As baanbreker het Gary Player grense verskuif toe hy die eerste nie-Amerikaanse gholfspeler geword het om die Meesterstoernooi in 1961 te wen.

Op die vooraand van nóg ’n Meesters – wat op Donderdag afslaan – neem Player ’n Augusta-herinneringsvlug en deel van sy staaltjies en hoogtepunte wat in Augustus 1957 begin het.

“Ek was ’n jong Suid-Afrikaner met net ’n paar oorwinnings agter my naam, maar ek het geglo dat ek onder die wêreld se bestes hoort en was vol selfvertroue toe ek in Amerika geland het. Dit het my egter ’n paar jaar geneem voor ek die Groen Baadjie gewen het!” het Player gesê.

“Wanneer jy jou uitnodiging kry om aan die Meesters deel te neem, weet jy dat jy teen die beste spelers ter wêreld gaan speel. Voor my oorwinning in 1961 het geen speler buite die Verenigde State die toernooi al ooit gewen nie. Eintlik is dit ’n reuseuitdaging om enige gholftoernooi te wen.”

“Ek was gesamentlik 24ste by my eerste Meesterstoernooi en dít het vir my selfvertroue gegee. Maar dit was eerder selfvertroue in die sin dat ek geweet het ek het nie na die beste van my vermoë gespeel nie.”

“Om net ’n handvol voëltjies te sink was nie ’n resep vir sukses nie en ek moes myself herinner dat dit die eerste keer was dat ek by die Meesters in aksie was. Die uitdaging was om seker te maak dat ek my uitnodiging vir die volgende jaar se toernooi gekry het.”

Sonder om te arrogant te klink, het Player altyd geglo hy staan ’n kans om enige toernooi te wen.

“Ek wou nooit net onder die top-10 by ’n toernooi eindig nie – die doel was om te wen; om myself óf binne trefafstand van die voorlopers te plaas teen Sondag, óf om voor te loop. Dié benadering het drie keer nogal goed uitgewerk.

“Dit was ’n reuseopskudding toe ek die eerste keer in 1961 gewen het. Ek onthou nog hoe die toeskouers vir hul Amerikaanse kampioen, Arnold Palmer, geskree het. Ek het gereeld gehoor: “Sit daai klein Suid-Afrikaner ore aan, Arnie!”

“Dit het my net meer gemotiveer om goed te doen – ek was mal daaroor om die buiteperd te wees. En ja, ek het daarvan gehou om hom te wen.

“Ek voel dat my sege die saadjie geplant het vir gholf om as internasionale sportsoort te groei. In daardie stadium was die meeste gholflegendes óf van die VSA óf van die Verenigde Koninkryk en hier – in 1961 – kom wen ’n Suid-Afrikaner die spel se grootste naam op die grootste verhoog.”

Wie is sy gunsteling om vanjaar met die louere weg te stap?

“Daar is soveel faktore wat ’n rol speel. Soveel van die wêreld se topspelers se spelpeil is tans skitterend, maar ek gaan by my gunsteling van die afgelope paar jaar staan. Ierland se Rory McIlroy sal wen en hom by ons klein Grand Slam-klub aansluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriaan ·

Al is hy van die bestes in die wêreld met golf, is Gary Player vir my ongelooflik hoe hy as mens elke dag leef. Dit is karakter en bitter min mense het dit. Wat n great mens!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.