Player uit die veld geslaan deur Trump se gebaar

Player (regs) saam met Arnold Palmer. Die legendariese Suid-Afrikaanse gholfspeler het 59 jaar gelede die eerste internasionale speler geword om die Meesters-toernooi te wen. Foto: Facebook.

In Suid-Afrikaanse sport is daar ’n paar supersterre wat internasionaal baie gewildheid geniet. Dink onder andere aan AB de Villiers op die krieketveld, Natalie du Toit in die swembad en dalk Beast Mtawarira op die rugbyveld. Maar Gary Player is ongetwyfeld die oorspronklike ster.

Die 84-jarige Player sal nou saam met Swede se Annika Sörenstam op 23 Maart deur die Amerikaanse president, Donald Trump, met die presidensiële medalje van vryheid vereer word tydens ’n spoggeleentheid by die Withuis.

“Ek is ongelooflik nederig en dankbaar om op hierdie besonderse wyse vereer te word,” sê Suid-Afrika se gholflegende.

Die twee sal saam met Jack Nicklaus, Arnold Palmer, Charlie Sifford en Tiger Woods die enigste gholfspelers wees wat dié eer al ontvang het.

“Om as ’n internasionale atleet die hoogste eerbetoon vir Amerikaanse burgers van die president te ontvang, is beslis iets wat ek vir altyd sal koester.”

Player geniet nie net internasionale roem vir sy uithalervertonings op van die wêreld se voorste gholfbane nie, maar ook vir sy onbaatsugtige werk as filantroop.

Gary Player. Foto: ANA.

“Ek is baie bevoorreg om ’n wêreldambassadeur vir gholf te wees, maar dit is my liefde  vir my naaste wat my geïnspireer het om aan te hou reis en my beste te doen om mense te verenig en geld in te samel vir diegene wat dit broodnodig het.”

In sy loopbaan wat oor sewe dekades strek het Player onder meer die Bob Jones-toekenning in 1966 ontvang; die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler geword het om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl oudpres. Thabo Mbeki hom ook met die Orde van Ikhamanga (in goud) vereer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
J

HARTLIK GELUK Gary Player! Ons is almal trots op jou!

… ‘the more you practice … the luckier you get!”

Moedeloos

N man, pa, oupa om op trots te wees. n Ware heer en altyd nederig. Baie geluk Gary