Pretorianer vier kolhou pas ná gholfbane heropen

Bertie Mostert spog met sy prestasie. Foto: Verskaf.

In gholf sorg ’n kolhou altyd vir ’n unieke herinnering. So ’n paar jaar gelede het die pa-en-seunspan van Francois en Eduan Naudé byvoorbeeld met ’n seldsame prestasie op die Middelburg-buiteklub gespog: Al twee het ’n kolhou op presies dieselfde putjie geslaan.

In die onsekere tye van die Covid-19-era – waar gholfbane reg oor die land eers onlangs weer vir amateurspelers heropen het – moet die euforie van só ’n gelukskoot net soveel soeter wees. En Bertie Mostert kan jou presies vertel hoe dit voel.

20 Junie 2020 op die 15de putjie van die Zwartkop-buiteklub in Pretoria is ’n tyd en plek wat Mostert nie sommer sal vergeet nie.

Hy vertel dat hy aanvanklik met sy sethoue gesukkel het, maar soos die dag gevorder het, het sy spel stelselmatig verbeter.  Die 15de putjie – wat volgens plaaslike kenners een van die moeiliker uitdagings op die baan is – was natuurlik die kersie op die koek.

Foto: Verskaf.

En om eerlik te wees: Wie het ’n sethou nodig wanneer jy sommer vanaf die afslaanbof – met ’n hou van hier by die 200 m – die balletjie suksesvol kan sink?

“Ek speel al 20 jaar gholf. Dit was die eerste keer dat so iets met my gebeur; ek was nog nooit eens op ’n gholfbaan óf deel van ’n vierbalkragmeting toe een geslaan is nie,” het hy aan Maroela Media gesê.

Boonop was die hou selfs meer spesiaal met die heropening van die bane.

“Dit was my eerste ronde gholf ná die afsonderingstydperk. Dit was beslis ’n eienaardige gevoel, want die klubhuis was dolleeg. Ek het wel die klok gaan lui om dit te vier!”

So van feesvier gepraat, kon hy darem te midde van sosiale distansiëring ’n opgewonde elmboog-saluut van sy medespelers kry?

“Ons het so amper van sosiale distansiëring vergeet toe ons agter gekom het dat die bal in die gat is,” het hy laggend gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.