Professionele gholfstokke binnekort weer in SA geswaai

(Foto: pixabay)

Professionele gholf is terug op Suid-Afrikaanse setperke met die Rise-Up-reeks wat vandeesmaand in Gauteng begin.

Die vyf toernooie van die reeks sal elk met ’n prysgeld van R600 000 spog en die finale rondes van elke toernooi sal onder meer op verskillende platforms, waaronder DStv Now, gebeeldsend word.

“Ons is verheug daaroor dat toernooigholf weer sy terugkeer maak. Professionele spelers en borge moes lank hiervoor wag en ons bedank hulle vir hul geduld,” het die Sonskynreeks se Selwyn Nathan gesê.

“Sedert ons bedrywighede in Maart gestaak is, het ons voet by stuk gehou dat ons nie gholfspel sal hervat totdat ons die nodige toestemming van die regering gekry en die saak met ons borge bespreek het nie.”

Volgens Nathan is die organiseerders vol vertroue dat die toernooie op ’n veilige en verantwoordelike wyse aangebied kan word.

Die Sonskynreeks het nou saam met GolfRSA gewerk om aan die nodige vereistes te voldoen om die aanbieding van toernooie te hervat. Slegs professionele gholfspelers, hul baljoggies en beamptes sal toegelaat word. Mediateenwoordigheid sal ook beperk word.

Geen toeskouers sal toegelaat word nie, terwyl daar geen gasvryheidsgeriewe vir die spelers sal wees nie.

“Ons hoofdoelwit is om te verseker dat niemand vanuit ’n gesondheidsoogpunt benadeel word nie. Ons is vol vertroue dat ons elke moontlike stap gedoen het om die veilige terugkeer van professionele gholf te verseker.”

  • Bepalings:

19 Augustus: Killarney-buiteklub

26 Augustus: Glendower-gholfklub

2 September: Pretoria-buiteklub

23 September: ERPM-gholfklub

30 September: Huddle Park-gholfklub

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.