Rahm kry sy neus voor in Ohio

Jon Rahm. Foto: Twitter.

Wanneer ʼn gholfspeler ʼn toernooi wen, verwag ʼn mens darem dat hy iewers in die top-tien op die wêreldranglys is, tensy dit ʼn vloekskoot was.

As ʼn jong speler boonop met ʼn sege na die eerste plek op die ranglys kan skuif, verskaf dit verdere kredietwaardigheid.

Die 25-jarige Spaanse gholfspeler Jon Rahm het die spinnerakke van die Covid-19-pandemie behoorlik afgeskud en loop met vier houe voor ná die derde ronde van die Memorial-toernooi wat in Dublin, Ohio, in die VSA gespeel word.

Rahm (204) het in uiters moeilike speeltoestande die derde ronde in 68 houe voltooi en slaan Sondagaand af met ʼn voorsprong van vier houe bo die twee Amerikaners Ryan Palmer en Toni Finau (albei 208), gevolg deur die Engelsman Danny Willet op 210.

Die baan, wat deur Jack Nicklaus ontwerp is, stel baie hoë eise aan die spelers. Dis bloedig warm, daar is rukwinde en die setperke is kliphard.

Dis hoekom Rahm (69, 67 en 68) se telling merkwaardig is, want hy is die enigste speler wat al drie rondes in minder as 70 houe kon voltooi.

As Rahm sy neus voor kan hou, sal hy slegs die eerste Spaanse speler ná Severiano Ballesteros word wat die piek van die ranglys na ʼn oorwinning sal vier.

Dylan Fritelli (215) het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en is in die gesamentlike 18de posisie, terwyl Louis Oosthuizen en Erik van Rooyen (albei 218) saam met Tiger Woods die 37ste posisie beklee.

Christiaan Bezuidenhout (219) is ʼn verdere hou terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.