Rahm lei die Spaanse armada in Amerika

Jon Rahm het al ’n paar PGA-bekers in sy vertoonkas. Foto: Twitter.

Die jong Spaanse gholfspeler Jon Rahm het die gholfwêreld nou aan sy voete, maar om dit te bereik het, moes hy eers deur troebel waters gaan en ʼn hele paar slaggate vermy.

Die 25-jarige Rahm het Sondagaand in Dublin in die Amerikaanse staat Ohio die Memorial-gholftoernooi op die windverwaaide Muirfield Village-baan met vier houe gewen om die boonste sport op die wêreldranglys te bereik.

Hy het die laaste ronde in 75 houe voltooi en op 279, nege onder die baansyfer, klaargemaak om die Amerikaner Ryan Palmer (283) en Matthew Fitzpatrick van Engeland (284) uit te stof.

Die drie Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout, Erik van Rooyen en Dylan Frittelli het saam met ʼn rits ander spelers op 291 in die 22ste posisie geëindig met Louis Oosthuizen, wat 79 houe in die vierde ronde aangeteken het, in die 54ste posisie op 297.

Dit was Rahm se derde oorwinning in die PGA-reeks en hy is saam met Severiano Ballesteros die enigste Spaanse spelers wat die hoogste piek kon bereik.

Dis effe vreemd, want ʼn mens sou dink José-Maria Olazábal en Sergio Garcia ook daardie posisie beklee het.

Rahm het sy topposisie te danke aan sy bestendigheid, want in 84 toernooie was hy drie keer eerste, vyf keer tweede,  ses keer derde, en 36 keer in die toptien.

‘‘Ek het onlangs twee familielede vanweë die Covid-19-pandemie verloor,” het Rahm ná sy oorwinning gesê.

Ook moes hy aan die einde van sy ronde hoor dat hy met twee houe gestraf gaan word nadat sy balletjie op die 16de putjie ʼn aks beweeg het. Hy het dit maklik met ʼn voëltjieset ingerol, maar in plaas daarvan ʼn hou aan baansyfer afgestaan nadat hy op die reëloortreding gewys is.

Rahm het sy straf soos ʼn jintelman aanvaar.

Dis mos sulke ouens wat gholf, en sport in die algemeen, nodig het.

Op die koop toe het hy sy oorwinning saam met sy kleuter en vrou geniet deur ʼn kinderfliek saam met hulle te kyk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.