Die teleurstellende vertoning van die internasionale span in die Presidentebeker-toernooi is Saterdag op die derde dag in Jersey City voortgesit en ʼn rekordnederlaag wink nou vir Nick Price en sy span.
Die VSA het Saterdag slegs hulle tweede volle punt tot dusver afgestaan toe Anirban Lahiri en Si Woo Kim van die internasionale span Saterdag met die heel laaste wedstryd 1-voor teen Charley Hoffman en Kevin Chappell gewen het.
Dit het die telling 14½ – 3½ gemaak.
Die VSA kort Sondag nou net een punt uit die 12 enkelspelwedstryde om die toernooi vir die tiende keer in12 toernooie te wen. Een toernooi is deur die internasionale span gewen en een het gelykop geëindig.
Die grootste neerlaag tot dusver was die 11 punte waarmee die internasionale span in 2000 verloor het toe daar nog 32 wedstryde in ʼn toernooi gespeel is.
Die enigste ander oorwinning vanjaar was dié van Branden Grace en Louis Oosthuizen op die eerste dag (Donderdag) in die beurtbalwedstryde. Daar was ook drie van die wedstryde wat deur die twee spanne gedeel is.