Reto vat voor by Sun City

Die Suid-Afrikaanse gholfster Paula Reto het Donderdag by Sun City gewys daar is nie ʼn plaasvervanger vir ervaring nie. (Argieffoto: Instagram)

Die Suid-Afrikaanse gholfster Paula Reto het Donderdag by Sun City gewys daar is nie ʼn plaasvervanger vir ervaring nie. Ná ʼn sukkelbegin in die tweede ronde van die SuperSport-uitdaagtoernooi op die Lost City-baan, het die 33-jarige Reto die stange vasgevat en die voëltjies ingeryg om uiteindelik die dag as die gesamentlike voorloper af te sluit.

Reto gee saam met Tvesa Malik van Indië die pas aan op ʼn totaal van 136 houe (-8) en is met een ronde oor twee houe voor die eerste dag se voorloper, die Brit Lauren Taylor (-6).

Reto het Donderdag se tweede 18 putjies in ʼn uitmuntende telling van 66 houe (-6) voltooi, terwyl Malik nog beter gepronk het met ʼn telling van 65 (-7). Taylor het vir ʼn telling van 70 geteken.

“Ek weet nie eintlik wat gebeur het nie. Ek het ʼn swak bofhou op die tweede putjie geslaan en toe ek weer kyk, het ek twee agtereenvolgende brouhoue aangeteken. Ek het vir myself gesê om kalm te bly en kanse vir voëltjies te bewerkstellig.

“Gelukkig kon ek dit doen en het toe ook boonop by die agtste putjie ingekap vir ʼn voëltjie. Dít het my momentum gegee,” sê Reto oor haar twee brouhoue en vier voëltjies oor die eerste nege.

Haar vertoning oor die tweede nege was egter stewig en sy het soos die ervare kampioen wat sy is, foutlose gholf gespeel en ʼn verdere vier voëltjies ingeryg om tot boaan die voorlopersbord te klim. Nie eens ʼn vertraging in spel van bykans anderhalfuur weens weerlig kon Reto van stryk bring nie.

“Die Lost City-baan laat ʼn mens dink. Jy moet strategies speel en jou kanse benut.

“Ná ʼn sukkelseisoen verlede jaar probeer ek nou om op die basiese dinge te konsentreer en dit reg te doen. Tot dusver vandeesweek kon ek gelukkig kophou. Dit is boonop aangenaam om terug in die land te wees en weer van my familie te sien. Eintlik voel dit of ek met vakansie is,” het Reto ná haar kookwatervertoning gesê.

Medevoorloper Malik is ʼn 28-jarige boorling van Delhi wat nog nie sukses buite haar geboorteland kon behaal nie. Haar foutlose vertoning van sewe voëltjies en 11 syfers is egter ʼn duidelike bewys dat sy kán speel.

Nog ʼn onervare nuweling wat ook duidelik weet hoe om ʼn gholfballetjie te slaan, is die Bloemfonteiner Gabrielle Venter. Sy beklee op -5 die vierde posisie ná ʼn puik 68 (-4) en speel vreeslose gholf. Sy het ses voëltjies aangeteken, maar ook twee brouhoue op haar telkaart ingevul.

Waar die immergroen Lee-Anne Pace op dag een ʼn uiters teleurstellende vertoning opgedis het, het sy in die tweede ronde uitgemunt en haar ware talente duidelik uitgestal. Pace, wat Woensdag 76 houe gespeel het, het teruggebons met ʼn skitterende foutlose vertoning van 65 (-7).

Sy beklee op -3 die gesamentlike sesde posisie, maar sal op wonderwerke moet hoop indien sy Reto-hulle na die kroon wil steek. Dit is egter nie onmoontlik nie, maar dit gaan haar beste spel verg – én ʼn inploffing deur die voorlopers.

Die Dimension Data-kampioen Kylie Henry het op die laaste putjie ʼn arend drie aangeteken om net-net die afsnymerk (+5) vry te spring.

*In Vidanta Vallarta het Suid-Afrika se Erik van Rooyen die eerste dag van die Amerikaanse PGA-reeks se Meksikaanse kampioenskap as die voorloper afgesluit.

Die 34-jarige boorling van Bellville was aan die brand met ʼn telling van 63 houe (-8).

Hy het oor die eerste nege putjies vier voëltjies en ʼn arend aangeteken om in 29 houe te draai. Oor die tweede nege het die tweemalige PGA-toernooiwenner egter ietwat stoom verloor en kon hy slegs 34 houe speel. Hy het onder meer ʼn tweede arend op die twaalfde putjie op sy telkaart ingevul.

Die Fin Sami Valimaki is op 64 (-7) in die tweede plek, met nog ʼn Suid-Afrikaanse speler, MJ Daffue, een van vier spelers wat op 65 (-6) die derde plek deel.

Garrick Higgo kon nie die goeie spel van sy landgenote ewenaar nie en is op 70 (-1) in die gesamentlike 48ste posisie.

*In Gqeberha is die Fransman Martin Couvra die voorloper met twee houe ná die eerste ronde van die Sonskynreeks se NMB-kampioenskap. Couvra het die Humewood-baan op sy knieë gedwing en drie arende onderweg na ʼn telling van 61 houe (-11) aangeteken in die Oos-Kaapse toernooi wat ook deel is van die Europese uitdaagreeks.

Die SA ster Neil Schietekat, Bjorn Akesson en Hayden Hopewell is saam tweede op -9, met JC Ritchie, Yurev Premlall, Danie van Niekerk, Keenan Davidse en Anthony Michael wat ná tellings van 64 (-8) die vyfde plek deel.

Die weersomstandighede was perfek vir goeie gholf gewees en nie minder nie as 107 van die 156 deelnemers het die baansyfer van 72 oortref.

*In Nairobi het die Suid-Afrikaner Ryan van Velzen nog ʼn puik vertoning gelewer en hy beklee die gesamentlike tweede plek ná die eerste ronde van die Europese reeks se Keniaanse Ope.

Die 22-jarige Van Velzen, wat onlangs die Mediclinic-titel op plaaslike bodem ingeoes het, het vir ʼn 67 (-4) geteken en is net een hou agter die Nederlander Darius van Driel (66).

Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis (69) lê sestiende, met sy landgenote Thriston Lawrence, Jacques Kruyswijk en Louis de Jager op 70 saam in die 37ste plek ná die eerste dag.

*In Rabat in Marokko is die Benoni-speler Nicole Garcia op 73 houe (gelyk aan syfer) agt houe agter Meksiko se Maria Fassi ná die eerste ronde van die Europese vrouereeks se Lalla Meryen-toernooi.

Die ander twee Suid-Afrikaners in die veld, Cara Gorlei (+2) en Casandra Alexander (+5), het erg gesukkel.

*James Kingston van Suid-Afrika lê 25ste ná ʼn telling van 74 (+1) in die eerste ronde van die Amerikaanse Kampioenereeks se toernooi om die Hassantrofee in Rabat.

Die senior manspelers en Europese vrouespelers ding op dieselfde baan mee in twee verskillende toernooie.

Steve Pate is op -6 die voorloper onder die veterane, so Kingston sal moet uithaal indien hy die Yank wil inhaal.

Die gewese Amerikaanse Meesterskampioen Angel Cabrera het 79 houe (+6) gespeel in sy terugkeer na die spel nadat hy tronkstraf van meer as twee jaar uitgedien het vir aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.