Rose trek streep in die sand by Meesters

Engeland se Justin Rose Vrydag by die Amerikaanse Meesters op Augusta. (Foto: Getty Images via AFP)

Wanneer ʼn gholfspeler die spinnerakke uit sy kop kan vee, is die stryd halfpad gewonne.

Dit is hoekom die 40-jarige Engelsman Justin Rose, wat in Johannesburg gebore is en op vyfjarige ouderdom saam met sy ouers, Ken en Annie, na Engeland verhuis het, die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi op Augusta kan wen.

Rose, wat 65 houe in Donderdag se eerste ronde aangeteken het, het dit met 72 houe, gelyk aan baansyfer, in die tweede ronde opgevolg.

Hy is op 137 houe steeds sewe houe onder die baansyfer en een hou voor die onbesonge Amerikaners Will Zalatoris en Brian Harman (albei 138).

Hulle word deur twee spelers, Jordan Spieth (Amerika) en die Aussie Marc Leishman, op 139 gevolg met ses spelers, wat nog een van die Amerikaanse gunstelinge, Justin Thomas, insluit, op 140.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel (145) is een hou oor baansyfer in die gesamentlike 32ste plek, met Louis Oosthuizen en Christiaan Bezuidenhout albei op 146 in die gesamentlike 40ste posisie.

Oosthuizen het sy 76 houe in die eerste ronde met 70 houe opgevolg en Bezuidenhout was net andersom, ná tellings van 70 en 76.

Dylan Frittelli (150) kon nie die afsnypunt haal nie en sal hom die res van die naweek voor die televisie onder meer saam met Dustin Johnson, Lee Westwood, Rory McIlroy, Brooks Koepka en Jason Day bevind.

Rose, wat vier houe ná die eerste ronde voor was, het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) weer ʼn nagmerriebegin gehad toe hy drie oor baansyfer ná sewe putjies was… byna net soos in die eerste ronde.

Genoeg is genoeg, het Rose vir homself gesê.

Volgens Golfchannel het hy ʼn streep op sy telkaart getrek om sy kop skoon te kry en met ʼn “nuwe” ronde te begin.

Dit het die nodige vrugte afgewerp, want hy het drie voëltjies oor die tweede nege putjies aangeteken om gelyk aan syfer te draai en aan sy voorsprong te klou.

Rose, wat reeds twee keer strooijonker in die Meesters moes speel, wil vanjaar die bruidegom wees.

* Zalatoris (24), wat eers in Februarie vanjaar tussen die wêreld se voorste 50 spelers kon inskuif om in die Meesters te speel, poog om die eerste debutant sedert Fuzzy Zoeller in 1979 te word wat die toernooi kon wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.