Rozner skitter op eerste dag van Mauritius Ope

(Foto: Verskaf)

Niemand gaan my titel by my afvat nie.

Dít was die woorde van ʼn uitgelate Antoine Rozner pas nadat hy die eerste ronde van die Mauritius Ope met ʼn skitterende telling van 62 houe (-10) voltooi en die dag boaan die voorlopersbord afgesluit het.

“Dit was ʼn wonderlike dag op die baan. Mauritius is my gunsteling-plek en die pragtige potblou water van die Indiese Oseaan bring ʼn rustigheid oor my. Ek kon nie op ʼn beter begin gehoop het nie,” het verlede jaar se kampioen gesê.

Hy is oorgehaal om sy titel te verdedig en het ʼn waarskuwing aan die ander 155 deelnemers in die veld gerig: “Niemand gaan my titel by my afvat nie. Ek is hier om te wen.”

Die 30-jarige Fransman het sy dag puik afgeskop met vyf voëltjies oor sy eerste sewe putjies waarna ʼn arend drie op die 18-de hom in 29 houe (-7) sien draai het.

Vier verdere voëltjies oor die volgende vyf putjies het hom op -11 geplaas en hy en sy aanhangers het begin dink ʼn seldsame telling van 59 is binne trefafstand.

“Ja, ek het ongelukkig begin dink aan ʼn 59, wat my naam in die spel se rekordboeke sou verewig. Maar, soos die noodlot dit wou hê, het ek my volgende bofhou by die sesde putjie in die water geslaan en dit was die einde van die 59-drome,” het Rozner agterna gesê.

Hy het vir dié brouhou opgemaak deur by die agtste weer ʼn voëltjie op sy telkaart in te vul, net om die dag op ʼn suur noot af te sluit met nog ʼn brouhou.

“In die geheel is ek in ekstase oor my vertoning en ek sien uit na die volgende paar dae,” het die voorloper gesê.

Rozner word gejaag deur die Engelsman Paul Waring, wat met ʼn foutlose 63 (-9) weggespring het.

Volgens Waring was dit sy goeie setwerk wat hom die voëltjies sien inryg het.

“Ek het tuis gevoel op die setperke en ʼn hele paar langes ingerol. Dis altyd lekker om goed te begin en ek is baie gelukkig oor my spel,” het Waring gesê.

Die Brit het in die middag gespeel en is deur winderige toestande en herhaaldelike reënbuie beproef. Die speeltoestande in die oggend was amper ideaal toe Rozner sy talente uitgestal het.

Suid-Afrika se talentvolle jong ster Jayden Schaper is op 65 (-7) in die derde plek.

Hy word gevolg deur die viertal van Darren Fichardt, Dan Erickson, Lyle Rowe en Laurie Canter, wat almal tellings van 66 gespeel het, met ʼn groot groep op 67, onder wie Casey Jarvis en Louis de Jager tel.

Engelsman Canter het verlede week net-net ʼn  plek in die LIV-reeks misgeloop toe hy in ʼn uitspeelstryd om die laaste posisie die knie moes buig en moes toekyk hoe sy LIV-drome tot ʼn einde kom.

Hy het vanjaar in ʼn hele paar LIV-toernooie gespeel as instaan-speler vir onder andere die beseerde Sam Horsfeld en het drome gehad van ʼn permanente plek in die reeks se uitsoekgroep van spelers.

Die Mauritius Ope word vandeesweek op die nuwe La Réserve-baan op die Heritage Bel Ombre-landgoed beslis.

Die mede-ontwerper van die baan, Louis Oosthuizen, het skaflik op die eerste dag vertoon en is ná ʼn 68 (-4) in die gesamentlike 16de posisie.

Bekendes soos Brandon Stone, Dylan Frittelli en Thomas Aiken het soos Oosthuizen die dag op -4 afgesluit.

Altesame 94 van die 156 spelers het die baansyfer van 72 geklop.

Bykomende inligting: Sunshine Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.