Ryderbeker: Amerika het hef in hand

Jon Rahm in aksie. (Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP)

Die tafel is gedek vir Amerika se gholfspan om Sondag op Whistling Straits in Wisconsin die Ryderbeker uit Europa se kloue te ruk.

Die Amerikaners, wat ná Vrydag se beurtspelle en vierballe reeds met 6-2 voorgeloop het, het Saterdag hul voorsprong tot 11-5 vergroot en kort net 3½ uit ʼn moontlike 12 punte in Sondag se enkelspelle om die Ryderbeker weer in ʼn Amerikaanse glaskas uit te stel.

Die vorige grootste terugvegpoging in die enkelspelle was ʼn agterstand van vier punte, toe Amerika dit in 1999 by Brookline vermag het en Europa in 2012 in Medinah die trofee uit die Amerikaners se hande gepluk het.

Gemeet aan die vertonings tydens die eerste twee dae, gaan daar ook net een wenner wees.

Europa se nie-spelende kaptein, Padraig Harrington, het ʼn sukkelende Rory McIlroy, wat drie keer gedurende die eerste twee dae verloor het, gekies om die Europese aanslag in die eerste wedstryd van Sondag se enkelspelle te lei.

Olimpiese goue medalje wenner Xander Schauffele is eerste uit die wegspringblokke vanaand Suid-Afrikaanse tyd (18:04) wanneer die enkelspelwedstryde begin. Hy speel teen McIlroy.

Die wenner van vanjaar se FedEx-beker en die Toerkampioenskap, Patrick Cantlay, speel teen die nuweling, Shane Lowry.

Scottie Scheffler, die Amerikaanse speler wat die laagste op die wêreldranglys is (21), het die reuse-uitdaging om wêreld nommer een Jon Rahm te pak.

‘n Tweestryd om dop te hou, sal beslis die een wees tussen die temperamentele Bryson DeChambeau en die Spanjaard Sergio Garcia. Collin Morikawa pak die jong talentvolle Viktor Hovland en die naasbeste speler op die wêreldranglys, Dustin Johnson, kom teen die veteraan Paul Casey te staan. Johnson was aan die wenlant in al vier wedstryde wat hy hierdie week gespeel het. As hy vandag wen, sal hy die eerste Amerikaner sedert Larry Nelson in 1979 word om vyf agtereenvolgende oorwinnings te behaal.

* Amerika het reeds in Saterdagoggend se beurtspelle vroeg die hef in die hand gehad nadat die Europeërs weer op die setperke gesukkel het.

Elf van die 12 Amerikaners het tot hul span se oorheersing bygedra en met minstens ʼn halwe punt daarvoor gesorg dat die voorsprong tot 9-3 gerek word.

Die enigste ligpunt vir Europa was die vertonings van die twee Spanjaarde Jon Rahm en Sergio Garcia, wat weer aan die wenkant was.

Europa moes in die middag se vierballe vroeg die bresse slaan.

Europa was in drie wedstryde ná nege putjies voor, maar nadat Amerika se Dustin Johnson en Collin Morikawa, wat tweede en derde op wêreldgholf se ranglys is, vir McIlroy en Ian Poulter uit die pad gestamp het, het die gety gedraai.

Sondag se enkelspelle (Amerika eerste genoem): Xander Schauffele teen Rory McIlroy; Patrick Cantlay teen Shane Lowry; Scottie Scheffler teen Jon Rahm, Bryson Dechambeau teen Sergio Garcia; Collin Morikawa teen Viktor Hovland; Dustin Johnson teen Paul Casey; Bruce Koepka teen Bernd Wiesberger; Tony Finau teen Ian Poulter; Justin Thomas teen Tyrrel Hatton; Harris English teen Lee Westwood; Jordan Spieth teen Tommy Fleetwood; Daniel Berger teen Damian Fitzpatrick.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.