Ryderbeker: Europa veg terug voor lawaaierige skare

Ryderbeker (Foto: esquire.com)

Ryderbeker (Foto: esquire.com)

Die eerste dag van die toernooi het reeds al die unieke kenmerke van die Ryderbeker-toernooi bevat, waarvan die belangrikste is dat Europa na sy loesing in die beurtspel op die Hazeltine-gholfbaan in Minnesota sterk teruggeveg het.

Die groot en luidrugtige skare het gesien hoe die VSA skoonskip van die eerste vier beurtspel-wedstryde maak. Die telling was 4 -0. Dit kon nie beter vir die VSA nie in ag genome hulle drie opeenvolgende verloortoernooie.
Maar die Europese span het in die vierbal die bordjies verhang en drie van die vier wedstryde gewen.
Aan die einde van die eerste dag is die VSA dus 5-3 voor. Dis net die kombinasie van Brandt Snedeker en Brooks Koepka wat ʼn punt in die ronde vir die VSA verdien het.

Albei kapteins gee op die tweede dag se beurtspel- en vierbalrondes ander spelers ook hul eerste kans in die toernooi. Die Amerikaners Dustin Johnson en sy speelmaat Matt Kuchar sal Saterdagoggend (VSA-tyd) net toeskouers wees. So ook Ryan Moore en JB Holmes.

Die twee Europese veterane, Lee Westwood en Martin Kaymer was Vrydag nie juis op dreef nie en sit ook Saterdag uit. Andy Sullivan en Danny Willet sal ook die Europese span van die kantlyn af aanmoedig.

♦  Langs die eerste bof op Hazeltine staan daar ʼn ou gholfsak op sy eie. Dit was Arnold Palmer s’n en ʼn gepaste huldeblyk aan dié gholflegende wat verlede naweek oorlede is.

Uitslae op die eerste dag –
Telling: VSA 5 Europa 3
Beurtspel (VSA 4-0)
Patrick Reed/Jordan Spieth (VSA) wen 3&2 teen Justin Rose/Henrik Stenson
Dustin Johnson/Matt Kuchar (VSA) wen 5&4 teen Thomas Pieters/Lee Westwood
Zach Johnson/Jimmy Walker (VSA) wen 4&2 teen Sergio Garcia/Martin Kaymer
Rickie Fowler/Phil Mickelson (VSA) wen 1-voor teen Rory McIlroy/Andy Sullivan

Vierbal (Europa 3-1)
Justin Rose/Henrik Stenson (Europa) wen 5&4 teen Patrick Reed/Jordan Spieth
Sergio Garcia/Rafa Cabrera Bello (Europa) wen 3&2 teen J.B. Holmes/Ryan Moore
Brandt Snedeker/Brooks Koepka (VSA) wen 5&4 teen Martin Kaymer/Danny Willett
Rory McIlroy/Thomas Pieters (Europa) wen 3&2 teen Dustin Johnson/Matt Kuchar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerd Lourens ·

Dis heerlik om die skouspel te volg.

Maroela – Dis JB Holmes.

Sune van Heerden ·

Dagsê Gerd

Dankie, ons het die tikfout gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.