Ryderbeker: VSA met rug teen die muur

Phil Mickelson Woensdag in aksie tydens 'n oefenronde. Foto: AP Photo/Charlie Riedel

Phil Mickelson Woensdag in aksie tydens ‘n oefenronde. Foto: AP Photo/Charlie Riedel

Die Ryderbeker, die emosiebelaaide spantoernooi wat elke tweede jaar tussen die voorste Europese en Amerikaanse gholfspelers beslis word, begin Vrydag by die Hazeltine- nasionale gholfklub in Chaska in die Amerikaanse deelstaat Minnesota.

Ná die rampspoedige vertonings van die VSA in 2014, 2012 en 2010 is daar erge druk op die Amerikaanse span om die bordjies in hierdie 41ste Ryderbeker-toernooi te verhang.

Die tuisvoordeel vir die VSA is ʼn groot bate gesien die oor-entoesiastiese en soms brutale Amerikaanse skare wat die Europeërs al in die verlede erg ontstel het.

Spansamestelling

Die spanne bestaan uit 12 spelers en ʼn nie-spelende kaptein met ʼn string onderkapteins wat vervaard met hul gholfkarretjies op die baan rondjaag  en inligting oor die verloop van die wedstryde aan mekaar oordra.

Agt van die VSA se spelers word deur hulle posisie op die puntelys bepaal en die ander vier spelers is die kaptein se keuse. Die Europese span sluit die voorste vier spelers op die Europese puntelys in en ook die voorste vyf Europeërs op die wêreldpuntelys. Die kaptein kies ʼn verdere drie spelers.

Kapteinspligte

Die gesogte posisie van Ryderbeker-kaptein sluit heelwat ander verantwoordelikhede en taktiese besluitneming in. Hy moet onder meer besluit watter agt spelers in die vierbal en die beurtspel speel, watter kombinasies saam speel asook wat die volgorde is waarin al 12 die spelers op die finale dag in die enkelspelkompetisie afslaan.

Toernooi-formaat

Daar word 28 wedstryde in die Ryderbeker-toernooi gespeel. Elke oorwinning tel een punt. Vir ʼn gelykopuitslag kry elke span ʼn halwe punt. Om te wen moet ʼn span 14½ punte behaal.
Op die eerste dag word vierbalwedstryde en vier beurtspelwedstryde gespeel. Hierdie formaat word vir die tweede dag behou hoewel die kaptein ander spelers en spanne kan aanwend.
Op die derde dag wat tradisioneel baie spannend verloop, word 12 putjiespelwedstryde beslis.

Ter verduideliking: In ʼn vierbal speel twee pare teen mekaar maar elke speler het sy eie bal in spel. Die laagste telling van die vier spelers wen die putjie vir sy span.

Met die beurtspel speel die tweemanspan met een bal en slaan hulle om die beurt ʼn hou. Die paar met die laagste telling wen die putjie.

♦ Die kaptein van die Europese span is die gesoute Darren Clarke wat in vyf opeenvolgende  Ryderbeker-toernooie gespeel het. Sy onderkapteins is Thomas Bjorn, Sam Torrence, Padraig Harrington, Paul Lawrie en Ian Poulter.

Die 12 Europese spelers is (aantal Ryderbekertoernooie in hakies):
Rafael Cabrera-Bello (0), Matt Fritzpatrick (0), Sergio Garcia (7), Martin Kaymer (3), Rory McIllroy (3), Thomas Pieters (0), Justin Rose (3), Hendrik Stenson (3), Andy Sullivan (0), Lee Westwood (9), Danny Willet (0) en Chris Wood (0).
Darren Clarke sien nie sy span as gunstelinge nie, ondanks hul drie agtereenvolgende oorwinnings.

Met ses nuwelinge in die span wil ʼn mens saamstem.

♦ Die VSA se kaptein Davis Love III het vyf ervare onderkapteins om hom vergader om strategie uit te werk. Hulle is Tiger Woods, Jim Furyk, Tom Lehman, Steve Stricker en Bubba Watson.

Die 12 Amerikaanse spelers is:
Rickie Fowler (2), JB Holmes (1), Dustin Johnson (2), Zach Johnson (4), Brooks Koepka (0), Matt Kuchar (3), Phil Mickelson (10), Ryan Moore (0), Patrik Read (1),  Brandt Snedeker (1), Jordan Spieth (1) en Jimmy Walker (1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.